Kyk weer met nuwe oë na geveerde besoekers in jou tuin

Kyk weer met nuwe oë na geveerde besoekers in jou tuin

Daar is een ding waaroor meeste mense deesdae saamstem – dit is dat die grendeltyd inperking ons almal met nuwe oë na die lewe laat kyk.
Ons woon by Amot en net soos meeste ander tehuise, is ons ook onder baie streng inperking, maar gelukkig het ons nou meer geleentheid om die voëls in ons tuin te waardeer.
Met verkyker en kamera in die hand, het ons tot die besef gekom dat die natuur nie deur Covid-19 geraak word nie.
Die slim mense sê dat die aanplant van spesifieke bome en plante altyd bye en voës lok. So het ons al in ons beperkte tuintjie in die afgelope twee jaar reeds oor die 40 voëlspesies waargeneem.
Die blomme van die aalwyn- en vuurpylplante lok veral suikerbekkies.

 

Die pragtige Witpenssuikerbekkie is een van die besoekers.
Die mannetjie word maklik aan sy blink groen kop, rug en keel, asook sy wit pens uitgeken. Die blink pers band wat die keel en pens skei. is ook soms waarneembaar.
Hy behou sy kleure deur die jaar. Die wyfie se rugkant is grysbruin en haar onderkant vaal wit. Hulle eet graag nektar en klein insekte.
‘n Ander suikerbekkie spesie is die Swartsuikerbekkie.
Die mannetjie is gewoonlik heeltemal swart, maar in goeie lig is die glansende groen voorkop en pers keel sigbaar. Hy behou ook sy kleure deur die jaar.
Die wyfie se rugkant is vaal en haar onderkant lig met donker strepies.

Ander geveerde besoekers is die kleurvolle Rooikophoutkapper en die Kuifkophoutkapper. Beide voëls se kenmerkende roep kan veral vroegoggend gehoor word.
Die Gewone Janfrederik, uitgedos in sy beste kleure, kom dan ook sy oggend bad neem in die voëlbad.
Soos altyd is die Gariepglasogie ook baie bedrywig tussen die struike – ‘n nagmerrie vir enige fotograaf om af te neem.
Besondere waarnemings is die Witborsspreeu met sy pragtige pers rugkant en wit bors.
Ook die Geelbekbosduif het ons kom verras. Hierdie duif kan maklik misgekyk word.
Ons sê elke dag dankie dat ons hierdie pragtige skepping kan geniet.
Feathers Voëlklubvergaderings en voëlkyk uitstappies is vir eers ingeperk, maar maak solank foto’s bymekaar van die voëls wat jy in jou tuin sien.
Vir navrae oor die voëlklub kan jy Hansie Bekker skakel by (056) 8114754 of 082 820 4306, of Peter Killian by 083 625 8100

 

Related Articles

Back to top button