News

Kindermishandeling ’n realiteit in gemeenskappe

Kindermishandeling ’n realiteit in gemeenskappe

Junie is Kinderbeskermings-maand, wanneer bewustheid rondom kinderbeskerming geskep word.
Dit is ons plig as gemeenskap om alle kinders teen geweld en mishandeling te beskerm.
Artikel 28 van die grondwet sit dit duidelik uiteen – en maak geen fout nie, kindermishandeling is ‘n realiteit, ook in jou gemeenskap.
Wanneer gekyk word na kindermishandeling is fisieke mishandeling die bekendste. Dit sluit in aanranding of aanrig van enige aanhoudende, doelbewuste, fisieke besering aan ‘n kind. Maar daar is ook emosionele mishandeling wat ‘n meer subtiele manier van kindermishandeling is, maar nie minder wreed as fisieke geweld en -mishandeling nie. Dit gebeur wanneer ‘n kind voortdurend emosioneel afgekraak word. Soveel so dat ‘n kind uiteindelik permanente emosionele letsels soos bagasie in die lewe moet saamdra. Hierdie emosionele seerkry veroorsaak dat ‘n kind, as hy of sy groter word, sukkel om in ‘n volwasse lewe aan te pas.
Seksuele mishandeling neem ook in die samelewing toe. Dit gebeur wanneer ‘n kind wat nie geestelik en emosioneel volwasse genoeg is daarvoor nie, vir niks anders as om selfsugtige redes misbruik word. Dit veroorsaak dat so ‘n seksueel mishandelde kind, behalwe die fisieke letsels, sukkel om van die emosionele letsels ontslae te raak.
So ‘n kind sukkel om suksesvol in ‘n volwasse verhouding te funksioneer. Die ergste is dat daar ouers is wat toelaat dat hul kinders seksueel misbruik word.
Verbale mishandeling kom op ‘n baie verbloemde manier in die samelewing voor. Hierdie mishandeling hang nou saam met emosionele mishandeling. Die karakter van ‘n kind word meestal blatant, maar ook soms op fyn, subtiele maniere afgebreek, sodat daar uiteindelik amper geen selfvertroue in so ‘n kind oorbly nie. Sonder ‘n gesonde selfbeeld kan geen kind normale verhoudings bly handhaaf nie.
Sielkundige mishandeling hang eweneens baie nou saam met emosionele en verbale mishandeling. Fyn, maar meestal siek sielkundige metodes word gebruik om ‘n kind af te knou.
Manipulering weer is een van die gevaarlikste metodes om ‘n kind skeef te trek sodat die kind kwalik as grootmens kan funksioneer. Die sielkundige probleme van ouers is meestal die oorsaak van die stelselmatige sielkundige afbreek van kinders. Finansiële mishandeling- en arbeidspraktyk wat ‘n kind uitbuit, klink dalk vreemd, maar is nie uitgesluit uit ons gemeenskap nie. Die gebrek aan die geborgenheid van ‘n ouerhuis veroorsaak dat kinders vir finansiële- en arbeidsmishandeling gebruik word.
Gebrekkige ouerskap of geen ouerskap offer kinders op hierdie altaar terwyl hulle nie gereed is om die eise van volwasse arbeid te hanteer nie.
Artikel 110 van die kinderwet verplig sekere professionele persone om kindermishandeling en verwaarlosing te rapporteer. Hierdie persone is onder meer mediese en regspraktisyns, onderwysers, predikante en maatskaplike werkers.

Die wet maak egter ook voorsiening dat enige persoon die moontlikheid van mishandeling, of dat ‘n kind beskerming nodig het, aan ‘n maatskaplike instansie of die polisie kan rapporteer, sonder enige risiko van siviele aanspreeklikheid.
Ons elkeen is verantwoordelik daarvoor dat die kwesbaarste in ons samelewing, naamlik ons kinders, nooit beseer, verwaarloos of op enige manier mishandel mag word nie!

Waar kan jy vir hulp aanklop?
Childline S.A – 0800 055 555
Kinderwelsyn S.A – 086 142 4453 of (011) 452 4110
Parys SAPD – (056) 816 2516
VVA Parys- (056) 811 2971
– Inligting vir hierdie artikel is deur die VVA voorsien

VVA sê dankie
Parys VVA kon met die hulp van die gemeenskap ekstra aandag en “beskerming” teen die winterkoue bied vir van die kinders in Parys en Vredefort.
Anonieme donasies het dit moontlik gemaak dat 50 komberse se lap geskenk is, en die komberse gemaak is, terwyl ook musse en slaapsokkies geskenk is om die kinders so ‘n bietjie warmer te hou.
Dankie aan Pick n Pay en Checkers vir die weeklikse kosbydraes, asook die Gereformeerde en NG Oos-gemeente vir die mooi gesindheid waarmee daar uitgereik is. Oos-gemeente het mieliemeel geskenk, terwyl die Gereformeerde gemeente se sustersvereniging bottels met sopbestanddele gepak het.

Dankie ook aan die gemeenskap vir die klere, skoene en wit olifant donasies wat ontvang is, asook Olympia slaghuis en Osna Vleis vir die hulp met verwerking van vleis en skenkings. “VVA sal nie sy werk suksesvol kan voortsit sonder die hulp van elke liewe persoon.

 

 

 

Related Articles

Back to top button