‘n Perskonferensie is Vrydag, 19 Junie by die Witrand Psigiatriese hospitaal in Potchefstroom gehou om klaring te gee oor die 123 COVID-19-gevalle wat in Juniemaand by die hospitaal aangeteken is.
Madoda Sambatha, ‘n lid van Noordwes departement gesondheid se uitvoerende komitee, het bevestig dat 23 uit die 36 personeel positief vir die virus getoets het. Van die 202 pasiënte is 100 tans met COVID-19 gediagnoseer. Volgens hom is dit nog die grootste uitbraak wat by een instansie in die land aangeteken is.
Sambatha het gesê dat die eerste COVID-19-geval ‘n personeellid was wat by Witrand op 10 Junie positief bevestig is. Daarna is besluit om pro-aktief op te tree en al die pasiënte in saal-3 en -4 te toets. Van die 202 pasiënte het 100 positief getoets, waarvan 81 van saal-3 en 19 van saal-4 was. Die meeste van die pasiënte is bedlêend.
Al die pasiënte is asimptomaties, wat beteken dat nie een van hulle sover simptome van die virus toon nie.
Die kliniese bestuur het dadelik maatreëls ingestel om te keer dat die virus versprei. Die positiewe pasiënte is van die negatiewe pasiënte geskei en beide word op ‘n daaglikse basis gemonitor sodat die personeel terugvoering aan hulle families kan gee.
‘n Isolasiesaal met 55 beddens is ingerig met suurstofbehandeling vir pasiënte wat later siek kan word.
Verpleegpersoneel sal nie na ander sale toe oorgeskuif word nie, om die verspreiding van die virus tussen personeel te keer.
Sambatha het verder gesê dat hulle die uitbraak baie ernstig opneem, veral omdat pasiënte met spesiale behoeftes hierby betrokke is.
Lees die oorspronklike artikel hier





