NewsNews

Van au pair na ‘School on Wheels’

“Alles gaan ‘ok’ wees op die einde, en as dit nog nie ‘ok’ is nie, is dit nog nie die einde nie,”

Toe die Covid-19 pandemie Tammy Wall se drome om uiteindelik vanjaar te kon gaan au pair in Amerika aan skerwe laat spat het, het sy min kon dink dat dié terugslag eintlik net ’n hupstoot vir haar sou wees. ’n Nuwe geleentheid wat deur dié 25-jarige entrepreneur van Parys raakgesien is om haar eie “School on Wheels” te begin.
Tammy het aan die einde van die eerste skoolkwartaal by Kleuterzone bedank met die plan dat sy April/Mei Amerika toe sou vlieg. Eintlik wou sy al na skool haar tasse vir die buiteland gepak het, maar omstandighede was nie ideaal nie, en het sy direk nadat sy aan die Hoërskool Parys gematrikuleer het, onderwys gaan studeer aan die Pukke.

Weens finansiële redes kon sy egter nie met haar studies voortgaan nie, en het toe ‘n pos by ‘n kleuterskool aanvaar. Haar planne om haar studies deur Unisa te voltooi het ook nie gerealiseer nie.

Sy was ‘n kleuterskool onderwyseres by Noag se Arkie (vier en ’n half jaar) en Kleuterzone (‘n jaar), waar sy haar passie om met kinders te werk kon uitleef.
Vir ’n jongmens om vandag jou voete te vind is nie maklik nie, veral as jy boonop nog nie ’n kwalifikasie agter jou naam het nie, vertel sy.
So word jou ervaring dikwels misgekyk as mense hul blindstaar teen jou ouderdom, sê sy.
Maar Tammy het vasgebyt. Selfs kitaar-, sanglesse en leeslesse vir kinders gegee om ’n ekstra geldjie te verdien. Toe reeds het niks in dié entrepreneur se pad gestaan nie.
“Mens moet tog iewers begin. Vandag se wêreld is moeilik, maar daar is altyd ’n uitkoms. Moet net nie gaan lê nie,” sê sy.
Toe haar pa vroeg vanjaar sê dat hy haar kaartjie na Amerika sou betaal, was sy vuur en vlam om haar profiel op die databasis vir au pair-werk in Amerika te laai.
Gelukkig was haar vliegkaartjie nog nie gekoop, en haar visum nog nie gefinaliseer toe die nuus
van algehele nasionale inperking Suid-Afrika getref het, en alle buitelandse vlugte opgeskort is.
Nietemin was sy in stukke oor haar droom wat anders uitgedraai het.

Tammy Wall saam met JG en Jarike Roux. Foto: Verskaf.

Toe die land oorbeweeg na vlak 4 van inperking, het sy besef sy sal ’n ander plan moet maak om ‘n inkomste te verdien en het sy ’n advertensie op Facebook geplaas dat sy na essensiële werkers se kinders sal kyk. ’n Skoot in die donker – maar die reaksie was oorweldigend. Daar was versoeke vir van kleuters tot laerskoolkinders.
Nou net ’n maand nadat sy behoorlik aan die gang is, het haar “School on Wheels” reeds 13 leerders wat sy tuis besoek, en is haar weekskedule vol.
Die laerskoolleerders help sy met huiswerk, en vir die kleuters werk sy stimulasieprogramme uit met die ervaring wat sy oor die jare opgedoen het by die skole waar sy gewerk het.

Krige Swanepoel en Carike Badenhorst leer speel-speel tel. 

Of sy nóú Amerika toe sal gaan as sy die kans kry, twyfel sy nie as sy sê dat sy haar drome nie afstel nie – net uitstel na volgende jaar. “Beslis nie nou in dié chaotiese tyd nie,” sê sy, en boonop geniet sy haar nuwe uitdaging heeltemal té veel.
“Alles gaan ‘ok’ wees op die einde, en as dit nog nie ‘ok’ is nie, is dit nog nie die einde nie,” sê Tammy, wat beslis weet wat sy uit die lewe wil hê, en glo dat geleenthede gesoek moet word, al maak die lewe soms pandemie-draaie.

Die ene konsentrasie terwyl Kristiaan Bam besig is met sy tuiswerk. Foto’s: Verskaf

Related Articles

Back to top button