News

Die regte lens en hope geduld

Die regte lens en hope geduld

Die plasing was deur Willem Verschuur. By naderde ondersoek het ek besef, dis Vanderbijlpark se eie Dr. Verschuur wat sulke pragfoto’s neem.

Willem het in ‘n elektroniese onderhoud gesê die fotografie gogga het hom al kleintyd gebyt. Sy pa was ‘n ywerige fotograaf en daar het die jong Willem al belangstelling begin toon. Hy onthou sy eerste kamera was ‘n Mamiya, wat hy in 1980 gekoop het toe hy as diensplig dokter in ‘n sendinghospitaal in die Ciskei gewerk het. Dit was nog ‘n filmkamera met 24 foto’s op ‘n rol. Die naaste plek om die films te kon ontwikkel was in Oos-London, maar dit het hom nie verhoed om alles denkbaar af te neem nie.

Deur die jare het sy passie vir fotografie gegroei en ontwikkel saam met die nuutste tegnologie en bypassende lense. Alhoewel hy prag foto’s van bykans enige iets kan neem, is sy grootste passie voëlfotografie, van tinktinkies tot aasvoëls. Hulle besoek gereeld die Kruger Wildtuin en die Kgalagadi Oorgrenspark waar ‘n mens oorgenoeg geleentheid het om jou passie uit te leef.

“Ek was in 2001 in die Sabi Sabi wildtuin op ‘n 3-dag Voëlfotografie werkswinkel aangebied deur Albert Froneman, ‘n beroemde voëlfotograaf. Hy het vir ons die fynere kunsies van voëlfotografie geleer en ook hoe om foto’s te ontwikkel in Photoshop” vertel hy.

Alhoewel hy oor die jare al ‘n groot hoeveelheid voëls kon afneem, sal hy graag nog ‘n Visuil voor die lens wou kry, maar tot dusver het die skaars  uil hom bly ontwyk.

Willem neem gereeld die voëls wat hul tuin besoek af, maar soms rig hy die kamera ook op blomme. Naas ‘n onlangse foto van ‘n heuningby by ‘n blomkelk wat hy op Facebook geplaas het, het hy geskryf: “Honey bee in my garden this morning. 100mm Macro lens and lots of patience!” Baie oefen en hope geduld is inderdaad wat nodig is om daardie perfekte oomblik in tyd en ruimte vas te vang.

Sy raad aan aspirant fotograwe is om te besluit wat jy wil afneem alvorens jy die kamera koop. Dit wat jy die meeste gaan afneem, byvoorbeeld mense, landskappe, blomme of diere, bepaal watter lense jy gaan gebruik. Leer soveel as moontlik van fotografie, daar is so baie inligting beskikbaar op die internet en natuurlik in goeie fotografie boeke. Dr Verschuur stel ook voor dat aspirant fotograwe by ‘n fotografie klub aansluit, want daar is soveel te leer by die ervare lede.

“Onthou,” skryf hy, “dat die beste foto’s nie noodwendig deur die duurste kamera geneem word nie.”

https://vaalweekblad.com/65500/die-regte-lens-en-hope-geduld/

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button