NewsNews

Lees saam: Die hondestapper

Die hondestapper

Die liefde vir lees is een van die belangrikste en kosbaarste vaardighede wat jy jou kinders kan leer. Daarom het Parys Gazette hande gevat met die Nal’ibali Reading-for-enjoyment veldtog om voortaan gereeld tweeweekliks ‘n storie te publiseer wat kinders, maar ook ouers sam met ons kleiner kinders kan lees. Jy kan daarom voortaan uitkyk vir hierdie stories op Saterdae en Sondae op Parys Gazette se webtuiste. Hier is vandag se storie:

 

Die hondestapper

My tannie is ’n hondestapper! Ek weet dit klink dalk snaaks, maar dis haar werk! Sy gaan stap met ander mense se honde!

 

Soms, wanneer ek vroeg uit die skool uit kom, laat Mamma my toe om vir Tannie Vanessa te help. Daar is vyf honde waarmee sy elke middag gaan stap. Princess, die Franse poedel, is wit. Sy is baie groot en stap met haar neus in die lug, en sy dra ’n diamanthalsband. Haar eienaar, Ziyanda, is die deftigste dame wat ek ken. Pepper is ’n klein, knorrige swart hondjie. Hy hap soms na my hakskene as ek nie oppas nie. Lucky is ’n hond wat gered is, en is vol streke. Sy eienaar het hom by ’n skuiling vir diere gekry. Niemand weet presies watter sort hond hy is nie, maar hy’s vriendelik en ek hou die meeste van hom. Dash en Lady is broer en suster. Hulle is taamlike groot honde met ligbruin pels. Hulle is omtrent ’n handvol, want hulle is mal daaroor om balle te jaag – en eekhorings.

 

Soms, wanneer ek en Tannie Vanessa met al vyf honde in die straat af stap, stop mense en staar ons aan. “Julle het omtrent ’n klomp honde!” sê party van hulle.

 

Ek glimlag net en sê: “Toemaar – hulle is nie ons s’n nie!”

 

Eendag help ek vir Tannie Vanessa. Ek hou Princess en Lucky se leibande vas. Tannie Vanessa sukkel om Dash en Lady te hanteer terwyl sy probeer om Pepper se happery vry te spring. Op pad park toe, skiet ’n kat by ons verby en Dash en Lady storm al blaffend agterna. Pepper, Princess en Lucky sit hulle agterna. Al die honde se leibande raak verstrengel en ek slaan neer op die sypaadjie. Eina!

 

“Is als reg?” vra Tannie Vanessa.

 

Ek staan op. “My knie is seer, maar verder is als reg,” sê ek en stof myself af. Ons ontknoop die leibande en dis toe dat Tannie Vanessa iets oplet.

 

“Princess se halsband is weg!” sê sy. Ek en my tannie soek oral na die diamanthalsband, maar ons kan dit nêrens kry nie. “Ooee, wat gaan Princess se eienaar sê?” kerm my tannie. “Ziyanda hou daarvan dat haar hond altyd deftig lyk!”

 

Die honde raak ongeduldig en trek aan hul leibande. Ons hou op soek en stap park toe. Tannie Vanessa gooi vir Dash en Lady ’n bal. Hulle hardloop deur die park, en baklei met mekaar om eerste die bal te kry. Pepper maak ’n yslike groot poef wat ek met ’n plastieksak en stok moet optel. Jig! Lucky kry ’n hondemaat en hulle hardloop die res van die middag agter mekaar aan en snuffel aan mekaar. Maar Princess weier om deel te hê aan die pret. Haar ore hang en sy lê onder ’n boom. Ek weet sy is hartseer omdat sy haar spesiale halsband verloor het.

 

Vyfuur is dit tyd om te gaan. Ons gaan laai die honde een vir een by hul huise af – eers Pepper, wat my probeer byt toe ek sy hek oopmaak, toe die stoute Dash en Lady. Tannie Vanessa is nie spyt om hulle af te laai nie. Ons het nog net vir Lucky en Princess oor. Tannie Vanessa is bang om vir Ziyanda te sê dat ons die duur halsband verloor het.

 

Net toe begin Lucky blaf en weier om verder te stap. Hy spring op en af teen ’n lamppaal. Tannie Vanessa is kwaai met hom. “Stop dit, Lucky!” sê sy.

 

Ek kyk op. Iets is aan die lamppaal vasgemaak en dit glinster. “Princess se halsband!” roep ek en wys daarna. “Iemand moes dit gevind het en hier opgehang het.” Gou-gou haal ek dit af en sit dit om Princess se nek.

 

Teen die tyd dat ons Princess se hek oopmaak, lyk die poedel baie deftiger en gelukkiger as tevore. Tannie Vanessa vertel vir Ziyanda die storie van hoe ons die verlore halsband gevind het. “Ag, daardie ou ding!” lag Ziyanda. “Dis nie regte diamante nie! Dis net blink plastieksteentjies!” sê sy.

 

Tannie Vanessa lag ook. Sy is verlig. Ons waai tot siens en stap verder om Lucky huis toe te vat.

 

“Mooi so, honne,” sê ek vir Lucky en streel sy kop. Sy tong hang uit, en dit lyk of hy glimlag. Sy stert waai al die pad huis toe. En hy kon nie verstaan hoekom my tannie hom daardie dag twee hondebeskuitjies gegee het toe ons by sy voordeur kom nie!

Hierdie storie is goedgunstiglik voorsien deur die Nal’ibali Reading-for-enjoyment veldtog. Om hierdie storie ook in ‘n ander SA taal te lees, of vir ander geletterdheids aktiwiteite, leeswenke en meer stories wat jy saam met jou kinders kan geniet, besoek www.nalibali.org of kyk ook op Facebook of Twitter by @NalibaliSA

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button