NewsNews

‘Mense verlang na die kerk se klank’

‘Mense verlang na die kerk se klank’

“Mense verlang na die kerk se klank. Die klank van sang.”
Maar nie alle gemeentes is gemaklik daarmee om nou reeds met eredienste by kerke te begin nie.
Meeste leraars sou vandeesweek eers vergader en dan besluit hoe die pad vorentoe aangepak sal word.
Dit volg na president Cyril Ramaphosa se aankondiging op 25 Mei dat kerke, moskees, sinagoges, tempels en ander erkende plekke van aanbidding Maandag 1 Junie kan heropen toe die land oorbeweeg het na vlak 3 van inperking.

Streng voorwaardes geld egter waaronder dat nie meer as 50 mense byeenkomste mag bywoon nie, en dat daar in ooreenstemming opgetree sal word met alle regulasies wat in plek gestel is om die styging van infeksies te verhoed.

Mense moet maskers dra, veilige afstand tussen mense moet gehandhaaf word, die deeglike ontsmetting van plekke van aanbidding voor en na dienste, en dat enige godsdienstige rituele wat selfs die kleinste moontlikheid het om mense aan die Covid-19 virus bloot te stel, vermy moet word, en waar dit ‘n noodsaaklike deel van ‘n godsdienspraktyk vorm, ontsmetting uiters belangrik is.
“Hoewel dit oor die algemeen baie goed gaan met die kerk se kommunikasie met ‘n ontsaglike aantal tegnologie wat beskikbaar is, en so ook met kerke se diens van barmhartigheid, gaan kerk oor meer as net retoriek.”

Só gesels ds. Johan Lötter van die NG Kerk in Vredefort waar die kerkraad besluit het om eers te wag vir verdere verslapping van maatreëls voordat voortgegaan sal word met eredienste by die kerkgebou. Ds. Lötter beskryf hierdie as van die uitdagendste tye in die geskiedenis van die kerk. “Dalk ook een van die eerstes in ‘n baie, baie lang tydperk waar dit gebeur het dat alle kerke en alle gelowe vir die wetenskap luister en onsself op hierdie manier toegemaak het.”

“Mense wat kerk toe gaan hou van bymekaar kom, en daar is ander sosiale goed soos basaars en ander funksies. Mense verlang na die kerk se klank. Die klank van sang. Mense verlang na die hande wat vat. Die tasbare goed. Kerk is ‘n verskriklike tasbare aangeleentheid,” verduidelik hy.

“Ons sê dankie vir die gesindheid van die regering vir toegewings, maar die protokol om ’n handjievol mense uit jou gemeente op ‘n Sondag op ‘n manier kerk te laat ervaar op dié manier, met maskers – jy mag nie sing nie, mag nie sosialiseer nie – het die kerkraad laat besluit om nie nou oop te maak nie, maar eerder te wag vir meer verslapping, want dit waarna mense verlang sal hulle nie nou kry in hierdie vorm nie.

“Ons is almal besig om meer te leer van kerkwees, Christenskap en geloof. Hoewel erediens en samehorigheid ‘n verskriklike belangrike deel van kerkwees is, ontdek ons ook ‘n klomp ander wonderlike dinge.

“Mense is meer sendelinge en evangeliste as ooit tevore. Hul gebruik hul selfone om die boodskap die wêreld in te stuur. Die goedhartigheid van mense wat ons nou sien is iets om op trots te wees.”

Ook die NG gemeente Parys-Oos gaan vir eers nie nou eredienste by die kerkgebou hou nie. “Ons hoor wat wetenskaplik gesê word oor hierdie virus en kies om ter wille van veiligheid van elke lidmaat, eredienste eers vir nou nog op digitale platforms aan te bied,” het ds. Ian Jonker gesê.

“Op die oomblik is die infeksiekoers steeds besig om daagliks te groei in die land. ‘n Kerk is juis ‘n plek waar die virus vinnig sou kon versprei tussen meer mense. Ons kies om die deur vir die virus toe te maak maar dit beteken nie dat die kerk se deure ook toe is nie. Mense is die kerk en dit is wonderlik om te sien hoe gelowiges ‘n verskil maak daar waar hulle leef, ”

Volgens past. Juan Greeff van die Dinamika-gemeente verwelkom hulle die besluit van die regering om godsdienstige aktiwiteite weer toe te laat.
“Ons glo dat die weerbaarheid teen elke siekte en virus in die bloed van Jesus Christus lê, en dat die krag van God teenwoordig is daar waar twee of drie in Sy Naam vergader. Daarom wil ons graag almal uitnooi om byeenkomste by te woon. Ons sal meer dienste reël om almal te akkommodeer soos wat die behoefte hom voordoen, en sal verder soos normaal funksioneer.”
Past. Greeff het gesê die belangrikste is dat mense gemaklik moet wees tydens eredienste, en nie voel hulle word ingeperk of vasgehou in vrees nie.

Die president het in sy boodskap gesê daar is begrip dat die sluiting van kerke en ander godsdiensplekke ‘n impak op mense gehad het. Ook dat godsdiensleiers se advies, leiding en ondersteuning erken en waardeer word.

 

 

Related Articles

Back to top button