News

Ons is gereed!

Ons is gereed!

Met graad 7 en graad 12-leerders wat van Maandag af die eerstes sal wees om terug te keer skool toe met die departement van onderwys se gefaseerde benadering om skole weer te heropen, is daar die afgelope week hard gewerk om skole gereed te kry.
Hoewel daar baie uitdagings in hierdie nuwe normaal is, sê mnr. Lucien van Zyl, skoolhoof van Hoërskool Parys, dat dié skool gereed en personeel gemotiveerd is om seker te maak veiligheid word eerste gestel wanneer die skool se 96 matrikulante Maandag weer deur die skoolhekke sal stap.
Hoewel die matrieks se kurrikulum nie aangepas word soos met ander grade s’n nie, het die skool se bestuurspan die versekering gegee dat planne in plek is sodat matrieks hul kurrikulum sal kan voltooi en genoeg tyd sal hê vir hersiening voor die rekordeksamen. Daar sal geen Junie/Julie eksamen wees nie.
Ook met die ander grade sal daar met die aangepaste kurrikulum voldoende tyd wees ten spyte van verlore skooldae.
Vergaderings is reeds die week met terreinpersoneel en nie-onderwyspersoneel gehou oor wat verwag word ten opsigte van regulasies rondom veiligheid en higiëne, en is klasse ook met die hulp van addisionele personeel skoongemaak.
Sosiale afstand sal te alle tye gehandhaaf word en beweging beperk word. Die skool is toegerus met beskermende toerusting, seep, ontsmet- en sanitasiemiddel wat deur die departement voorsien is, maar wat ook self deur die skool en danksy fondse van die Weiveld Boerevereniging aangekoop is vir die personeel en matrikulante wat reeds volgende week terugkeer skool toe.
Hoewel dit elke ouer se keuse is om sy kind te laat teruggaan skool toe, het mnr. Van Zyl die versekering gegee dat alles moontlik gedoen is, en planne in plek is om seker te maak leerlinge en personeel se veiligheid word te alle tye eerste gestel.
Waar ouers voel om nie hul kinders terug te stuur skool toe nie, is dit raadsaam om vooraf met die skool te kommunikeer.
Die skool sal ‘n brief voor Vrydag uitstuur waarin onsekerhede aangespreek sal word oor onder meer skoolbywoning en kinders met onderliggende gesondheidsprobleme.

Related Articles

Back to top button