NewsNews

Aanlyn-leer kom ook met uitdagings vir student-wees

Aanlyn-leer kom ook met uitdagings vir student-wees

Aanlyn klasdraf is vir menige leerder en onderwyser ‘n nuwe uitdaging, maar hoewel dit vir sommige studente dalk meer bekende terrein is, kom dit beslis nie met minder uitdagings nie.
Met die universiteit wat eers wou verseker dat soveel moontlik studente aan aanlyn klasse kan deelneem, vertel Joshua van Zyl, toppresteerder van Hoërskool Parys se 2019 matriekklas en tans student aan die Noordwes-Universiteit se Potcefstrooom-kampus, dat daar eers amptelik op 4 Mei met klasse begin kon word nadat die inperking aangekondig is.
“Elke dosent het ‘n ander manier hoe aanlyn leer benader word,” vertel Joshua.

So is wiskunde video’s al vroeg in April op Efundi gedeel. Efundi is die Noordwes- Universiteit se aanlyn platform waarop onder meer leermateriaal gelaai, toetse geskryf en take ingehandig kan word. Studente moet dit op hul eie pas deurwerk en self die verantwoordelikheid hê om die toetse te skryf en take betyds in te handig.
“Van ons vakdosente bied ‘lewendige’ Zoom-klasse aan op tye wat ons gewoonlik sou klas hê, terwyl ander die week se video-klasse oplaai.”
“Ons kommunikeer met die dosente via WhatsApp, e-pos en Efundi se kletskamer, en kry gewoonlik vinnig terugvoer – so ons is darem nie op ons eie nie,” gesels Joshua.
“Die toetse het nie minder geword nie – ons het op hierdie stadium tussen 5 en 7 toetse en take per week, gedeeltelik omdat ons die tyd wat ons verloor het moet opvang.”
Die uitdaging kom wanneer die gelyktydige verkeer van studente op Efundi te veel raak en sê Joshua dat toetse al noodgedwonge uitgestel moes word, omdat daar studente was wat nie kon aanteken nie.

Hy en ander wat nou ook noodgedwonge by die huis moet werk, sal jou kan vertel dat daar dinge by die huis is wat jou uit die werk hou, anders as op kampus waar jy jou volle aandag aan jou studies kan gee. Tog meen Joshua is die grootste voordeel met die klasse wat in video-formaat is, dat jy kan teruggaan na die video sou jy iets vergeet het of weer daarna wil kyk.
Nog ‘n oud Parys-matrikulant en eerstejaarstudent aan die Pukke, Johan Claassen, stem saam dat aanlyn leer soms moeilik raak omdat Efundi nie noodwendig opgestel is om soveel verkeer gelyktydig te kan hanteer nie.

Gevolglik is die webtuiste dan baie stadig of nie toeganklik nie weens die oorlading. Met internetspoed wat baie belangrik is, veral tydens toetse, is dit ‘n nagmerrie as jy jou internetverbinding sou verloor en ‘uitgeskop’ word op die webtuiste. “Met sommige toetse is ons tydsbeperking te kort om weer in te teken en betyds die toets te voltooi.”
Johan sê dat dosente wel in die proses is om voorsiening te maak vir stadige internetspoed deur die tydlimiete langer te maak vir toetse en meer geleenthede vir toetse te bied. Hoewel aanlyn klasdraf vir hom werk, sê Johan dat hy die lesinglokaal verkies en direkte interaksie met studente en dosente sou wou hê omdat dit meer persoonlik en motiverend is. Hy mis die studentelewe, klasse, die universiteit, biblioteek en kafeteria, maar maak die beste van ‘n slegte saak.

Sy wens is dat die universiteit so gou moontlik weer sal oopmaak, want van student-wees het eerstejaars nog maar min gesien, met selfs vanjaar se Jool wat ook aan die kortste end getrek het.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button