NewsNews

Hartroerende toneel toe donkie en baas na lang Covid-19 skeiding weer ontmoet

“Dit was ‘n onvoorwaardelike liefdesbetuiging – die roerendste oomblik wat ek nog ooit beleef het,” sê donkie se eienaar.

Deur Retha Fitchat

Die inperking weens Covid-19 het die afgelope weke nie net in Suid-Afrika nie maar wêreldwyd vir emosionele oomblikke gesorg wanneer mense wat in afsondering was, na ‘n lang tyd met hul geliefdes of troeteldiere herenig is.
Die mees onlangse video van so ‘n voorval is gister op ‘n plaas in die suide van Spanje geneem, toe ‘n 38-jarige bemarkingsdirekteur, Ismael Fernández, na twee maande van inperking weer vry was om na sy familieplaas naby die stad Malaga, terug te keer.

Dit is nie net sy gesinslede wat daar op hom gewag het nie – sy geliefde donkiemerrie, Baldomera, was ook daar en het skynbaar net so baie na hom verlang soos hy na haar.

Met sy aankoms op die plaas het Ismael dadelik na sy “donkiekind” begin roep, en op die video kan gesien word hoe Baldo  stadig nader stap. Ismael raak bewoë terwyl hy sy donkie liefdevol groet en oor haar kop streel. Met dié begin Baldomera hartroerend balk. Dit klink kompleet of sy huil! Terselfdertyd kan mens in die agtergrond hoor hoe Ismael sukkel om die knop in sy keel af te sluk.

Ismael het gister ‘n selfie van hom en sy donkie, sowel as ‘n video van die emosionele herontmoeting op Instagram onder @Baldomerayyo gedeel.

Hoewel hy skynbaar effens verleë voel dat sy emosies hom so oorweldig het tydens die neem van die video, sê Ismael hy kry nie skaam dat mense hom kan hoor huil nie omdat dit een van die mees opregte liefdesbetuigings was wat hy nog ooit beleef het.

Kyk na die video by hierdie skakel:

Related Articles

Back to top button