NewsNews

Kinders is aanpasbaar, maar…

Kinders is aanpasbaar, maar…

Soms leef volwassenes so in ‘n eie wêreld van stres en bekommerd wees dat daar net dankbaarheid is as die kinders hulself besig hou, lyk asof hul huiswerk doen of nie raas, neul of baklei nie.

Tharien Aucamp, ‘n arbeidsterapeut van Vanderbilpark, sê kinders mis tans uit op twee kardinale punte van normale ontwikkeling, naamlik sensoriese ervarings en verhoudings, berig Vaalweekblad.

Die afgelope twee maande het hulle nie meer daardie belangrike sosiale interaksie met maats nie, ontbreek die tipiese roetines van skool en die gepaardgaande grense. Mamma is nou skielik juffrou ook, ouma en oupa mag nie meer kom kuier nie en die maats ontbreek saam met wie hul kon speel, redeneer en stry. Ja stry, dis ‘n belangrike deel van ontwikkeling sodat hulle later kan weet hoe om konflik op die regte manier te kan hanteer.

Die grendelstaat is nie vir die kinders ‘n vakansie nie. Hulle is van baie dinge ontneem. Tharien vertel van ‘n seuntjie wat gesê het hy moet nog skoolwerk doen, maar al die lekker van die skool is nou weg. Daar is nie meer pouses en sport en speel nie…

Baie kinders het nou geen balans ten opsigte van hul sensoriese ontwikkeling nie. Kinders in ‘n kleuterskool byvoorbeeld sal in een oggend dalk buite in die sand speel, of op die swaaie en klimrame klouter en dan binne verf, knip en plak en later na ‘n storie luister. TV kyk bestaan nie of is beperk tot ‘n kort rukkie voor huis toe gaan tyd. Dieselfde kleuter by die huis sit dalk nou vir ure voor die TV en kry geen verdere sensoriese ervaring nie.

Volgens Tharien is kinders tot op 10 jaar in die gedragsnabootsing fase. Hulle spieël letterlik dit wat hulle sien ander doen. Kinders wat nou skielik angstig is en weer begin duim suig, of meer aggresiewe gedrag toon, weerspieël die emosies wat hul tans in die huis ervaar. Ouers het in hierdie inperkingstyd soveel rolle om te vertolk terwyl hulself die onseker situasie moet probeer verwerk, maar dit is belangrik om te onthou dat kinders altyd 100% aanvaarding en liefde nodig het.

Die huidige situasie sit baie druk op verhoudings, veral waar ouers moet instaan as onderwysers. Die kinders weet naderhand nie meer waar is die grense nie. Vir kinders voel dit later mamma is net die heeltyd kwaad en hulle moet ten alle koste hul werk en alles 100% regkry in ‘n poging om nie verwerp te voel nie. Intussen probeer mamma ook maar net haar bes, maar hoe moet jou jong kind dit nou weet? Dis daarom belangrik dat die verhouding tussen ouer en kind eerste gestel word. Maak seker jou kinders kan steeds met jou oor enige iets praat en waak daarteen om jou stres en vrese na hul toe oor te dra.

“Ouers moet hul kinders se emosionele ankers wees. Maak elke dag tussen 15 minute na ‘n halfuur tyd om jou kind se wêreld te betree. Doen iets spesiaals saam wat hy of sy wil doen, al spring jul saam op die bed. Ek en my dogtertjie het nou die dag ons King Charles Spaniël saam in die stort gebad. Dit was pret. Dit was nodig” vertel Tharien.

Omdat persoonlikhede verskil, reageer kinders nie dieselfde op hierdie inperkingstyd nie en sal hul ook nie dieselfde reageer as hulle moet terug gaan skool toe nie. Dis belangrik om jou kinders te ken en te weet wanneer hul emosioneel swaar kry. As hulle gedrag skielik baie verander of as hulle onttrek, kry profesionele hulp van ‘n berader of terapeut. En as jy as ouer emosioneel sukkel maak seker jy kry ook hulp, want jou kinders kan en sal net okay wees as jy okay is.

Lees die oorspronklike berig hier:

https://vaalweekblad.com/63074/kinders-is-aanpasbaar-maar/

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button