News

Eiendom: Grendeltyd druk oral

Eiendom: Grendeltyd druk oral

Huurders van huise en woonstelle in Parys begin swaarkry in die grendeltyd, maar verreweg die meeste huurgeld is vandeesmaand ten volle en betyds betaal.
So sê Saal de Jager, eienaar van RentalsDotCom, wat woonplekke namens hul eienaars verhuur, bestuur, en huurgeld insamel.
“Daaroor is ek dankbaar, want talle eienaars het ook verpligtinge, byvoorbeeld ‘n huisverband, of hulle leef uit hul huurinkomste.”
Hy sê die meeste eienaars is simpatiek en sal hul huurders probeer help waar hulle kan.

Sy raad is dat huurders met kontantvloeiprobleme hul verhuringsagente onmiddellik moet nader met skriftelike bewys van hul situasie, byvoorbeeld ‘n afskrif van hul bankstaat as hulle minder of selfs geen inkomste ontvang het nie. Saal sê dat huurders en kopers volgens huidige regulasies tot 7 Junie mag trek en verhuis, maar dat agente nie toegelaat word om inspeksie te doen nie. Dit beteken dat eienaars verliese mag ly indien persele beskadig agtergelaat word. “In sulke gevalle kan deposito’s nie onmiddellik uitbetaal word nie.”
Hy verwag egter hierdie situasie sal regkom sodra inperking op vlak 3 intree.
Saal sê dat grendeltyd ook bitter is vir veral kleiner agentskappe. “Hul moet aanhou salarisse, telefoon- en internetrekenings, en ander kostes betaal, maar kry geen inkomste nie.” So is daar reeds van hierdie agentskappe wat moes sluit.

Oor uitsetting:
Die regulasies wat op 29 April onderteken is maak in Artikel 19 voorsiening daarvoor dat ‘n bevoegde hof ‘n uitsettingsbevel mag toestaan ingevolge wetgewing (Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyf, en die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besitting van Grondreg) om enige persoon uit te sit vanaf die grond of residensiële gebou, maar dat enige bevel vir uitsetting opgeskort sal word tot die laaste dag van vlak 4 inperking, tensy ‘n hof bevind dat dit nie reg en billik is om die uitvoering van so ‘n bevel oor te hou nie.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button