News

‘Ek is bang dat ek kinders in die steek sal laat’

‘Ek is bang dat ek kinders in die steek sal laat’

Dis met groot kommer en verdeeldheid in my mamma en onderwyseres hart dat ek hierdie skryf. Ek wens ons kan terugkeer na normaal, dat skole net kan oopmaak, maar dan besef ek hierdie het ons realiteit geword, en dat dit nie so maklik is as om net skole weer oop te maak nie.
Vandat die eerste geval van Covid-19 in Suid-Afrika aangeteken is en ons president aangekondig het skole moet sluit, kon ek nie help om te wonder watter impak dit op ons skole en kinders sal hê nie. Wat gaan die res van die jaar gebeur? Ek het meer vrae en bekommernisse as antwoorde en oplossings. Dit is glad nie so maklik om net die skole oop te maak nie.
Daar is baie goed wat in plek moet wees wat selfs vir skole in ontwikkelde gebiede nie maklik sal wees nie, om nie te praat van skole in die informele gebiede wat al voor die grendeltydperk waterloos was – skole wat puttoilette het. Water en sanitasie is hier ’n luuksheid.
Besluite word gemaak wat gebaseer is op Eerste Wêreld lande. Kom ons wees eerlik – SA kan nie met dié lande vergelyk word nie. Wat ookal besluit word, moet in ag geneem word dat ons met weerlose kinders en gemeenskappe sit.

Ek werk by ‘n skool waar kinders daagliks kos by die skool kry, waar armoede ‘n realiteit is. Snoepiegeld is nie note nie, maar een of twee rand as jy gelukkig is om ‘n geldjie te kry. Kinders deel hulle suigstokkies en toebroodjies met mekaar. Hulle dink nie altyd aan higiёne nie, want hulle ken swaarkry en honger gaan slaap.
Ek staan voor die klas en probeer hulle leer van higiёne, en gee ‘n paar riglyne soos om gereeld hande te was (hoewel ons al baie lank sonder water by die skool is), jou afstand te hou, wat om te doen as jy hoes of nies, en om nie aan jou gesig te raak nie. Almal luister. Terwyl ek nog praat sien ek hoe hulle skelm ‘n suigstokkie deel. Dadelik help ek hulle reg met my sagte omgee stem en herinner hulle aan wat ek nou net vir hulle vertel het. Steeds hoes en nies kinders in die klas en pas nie toe wat ek vir hulle demonstreer het nie. My moed sak in my skoene. Gewoontes kan nie so vining afgeleer word nie. Ek as volwassene sukkel daarmee.
Hoe kan ek dit van die 12- en 13-jariges in my klas verwag? Hoe kan ons dit van enige kind verwag? Ek is bekommerd oor kinders se gesondheid. Vir weke lank en vir sommiges gaan dit maande wees wat hulle in “kokonne” by die huis gehou was. Hulle was glad nie blootgestel aan enige kieme behalwe dié waaraan hulle gewoond is by die huis.
Ek kan nie help om te wonder hoe siek gaan die kinders nou word in die winter wat voorlê nie? Hoeveel gaan verkoue en griep opdoen en paniekbevange raak dat hulle moontlik Covid-19 opgedoen het. Gesondheidswerkers gaan oorlaai word.

Daar gaan van onderwysers en kinders verwag word om hulle afstand te hou in oorvol klasse. Waar ek skoolhou sit ons met 40 tot 60 leerders in ‘n beknopte klas. Almal moet maskers vir ongeveer sewe ure dra, en ek wonder – is dit gesond om die maskers so lank aan te hou? Onderwysers vertel gereeld hoe hulle sukkel met dissipline. Dit gaan ‘n baie moeilike taak wees om hierdie nuwe reёls toe te pas. Hoe gaan die juffrou met ‘n masker op haar gesig met die kinders praat en klankies aanleer?
Geen grondslagfase kind sal die masker vir ‘n paar uur op hulle gesiggies kan hou nie. Wanneer kinders eet en drink gaan die maskers afgehaal word.
In die informele gemeenskappe woon baie kinders in huise met net 1 vertrek. Hulle is ‘n gesin wat een bed deel. Baie woon saam met hulle grootouers, terwyl ma en pa weg werk, of glad nie deel van hulle lewe is nie. In die sinkhuisie is dit ysig koud in die winter en alles word toegemaak. Hier het jy nie jou eie kamer nie, en daar is geen sosiale afstand nie. As een siek word is die moontlikheid groot dat almal kan aansteek. Wat as een van die kinders hulle enigste versorger aansteek en dan in ‘n hospitaal beland of selfs sterf? Waarheen sal die kinders gaan?
Almal wil hê dat die skole moet oopmaak want tuisskool is nie maklik nie, en bring sy eie uitdagings en hoor jy “onderwysers doen niks en sit net by die huise”. Toemaar, ons onderwysers is al gewoond aan die dwarsklappe, maar kom ek vertel jou – onderwysers werk baie hard en het slapelose nagte oor almal se kinders vir wie hulle verantwoordelik is. Hulle beplan en stel nuwe werkkaarte op, haal net die belangrikste konsepte uit om te probeer red wat te redde is.

Baie onderwysers in beheerliggaamposte het slegte nuus ontvang dat hulle moontlik nie betaal kan word nie, of dat van hulle slegs ‘n gedeelte van hulle salarisse gaan kry, omdat ouers nie skoolfonds kan betaal nie. Steeds werk hierdie onderwysers harder as ooit om te keer dat die kinders agter raak. In baie gevalle ten koste van hul eie kinders. Aanlyn skool is wonderlik, maar nie moontlik vir almal nie. Data is duur en nie almal het toegang tot slimtoestelle nie. Baie ouers werk en kan nie kinders help met die klasse nie.
Die groot meerderheid van SA se kinders word agtergelaat. Ja, dalk is dit nie jou probleem nie, maar vir iemand is dit ‘n groot uitaging en bekommernis wat dan op die einde die onderwyser se probleem gaan wees wat verantwoording moet doen vir die uitslae. Sou kinders nou skooltoe gaan – is jy reg vir die gevolge daarvan? Het jy al mooi gaan sit en dink? Ek lees bitter min artikels oor die impak op kinders se sielkundige en emosionele welstand.

Onderwysers gaan weens die virus ‘n nuwe tronk moet skep (dit terwyl gevangenis vrygelaat word), waar hulle nie kos kan deel, aan ‘n maatjie mag vat, juffrou ‘n drukkie mag gee, of ‘n maatjie kan troos nie. Nee, hulle moet verantwoordelik optree en hulle afstand hou, maskers dra en hande was. Kom ons sien die prentjie dat daar elke twee weke nog kinders gaan bykom. Ouers laai hulle kinders af by die skool en hier moet hulle in die koue winter in rye staan om geskandeer te word. Elke twee weke gaan die rye langer word. Kinders wat ‘n hoё temperatuur het se ouers sal die kind huis toe moet neem. Baie leerders gaan skool toe met ‘n taxi. Wat gaan gebeur indien een van die kinders ‘n hoё temperatuur het?
Hoe gaan daar sosiale afstand gehou word in laerskole, veral met die kleintjies op die speelgrond? Wie gaan ouers verantwoordelik hou indien kinders Covid-19 opdoen by die skool of iemand tuis aansteek wat ‘n swak immmunstelsel het? Is jou kind gereed vir dit wat voorlê? Gaan jou kind die masker die hele skooldag kan aanhou en sy/haar afstand die hele tyd hou? Alles is nie so eenvoudig soos was of ontsmet jou hande en hou jou afstand nie.

Gaan daar verwag word dat kinders elke dag skoolklere moet dra? Onthou dat skoolklere duur is en dat sommige kinders slegs een stel het. Die klere wat kinders dra moet daagliks gewas word. So ook die maskers, en onthou daar is gebiede wat sukkel met lopende water. Gaan die kinders elke dag tasse tussen die skool en huis moet dra? Tasse wat dalk moonlik die virus op kan hê – wie weet waar daardie tas oral was. Dus sal tasse dan ook ontsmet moet word. Indien tasse by die skool bly sal daar nie huiswerk gegee kan word nie, en gaan die tasse by al die skole veilig wees? Naskoolsentrums kan nie nou oopmaak nie. Baie ouers en onderwysers is bekommerd oor wat hulle gaan doen wanneer hulle werk.
Wat gaan gebeur as van die onderwysers moontlik siek word of ‘n Covid-19 geval by die skool kry? Dan gaan skole weer moet sluit. Ons almal is al geïrriteerd met die uitstel, maar eerder dit as hals oor kop in ‘n ding gaan en verkeerde besluite neem. Ek praat nie namens enige onderwyser nie. Hou net in gedagte dat daar soms die ontmoontlike en bo-menslike van die onderwys verwag word. Ek is seker baie ouers het in die tydperk dalk meer respek vir die onderwys gekry.

Daar is miljoene kinders daar buite van verskillende agtergronde, verskillende skole met nie ideale omstandighede nie. Ek is bang ek kan nie die kind wat in die klas voor my sit gerusstel nie. Ek is bang dat ek dalk die virus kan opdoen en onwetend van my leerders of kollegas wat nie so ‘n sterk immuunstelsel het nie aansteek, of dat ek die virus huis toe kan bring na my eie kinders wat chroniese asma het. Ek is bang dat een of meer van my skoolkinders iewers alleen in ‘n hospitaal moet gaan lê. Ek is bang dat ek dalk ‘n kind aan die dood moet afstaan en ouers of voogde in die oё moet kyk terwyl hulle terugkyk asof ek dit moes keer. Ek is bang dat daar dalk ‘n geval kan wees en ons ure moet wag vir ‘n ambulans of mediese hulp. Ek is ‘n onderwyser, maar ek is ook net ‘n mens. Hou asseblief skole, leerders en onderwysers in u gebede en bou hulle eerder op as om hulle af te breek.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button