NewsNews

‘Dit maak my kwaad as mense dink dit is ‘n grap’

‘Dit maak my kwaad as mense dink dit is ‘n grap’

“Sekondes. Dit is hoe lank dit neem om te toets vir Covid-19. In jou motor, met laboratoriumpersoneel ten volle geklee in beskermende drag. En nee – dit was nie pynlik nie, net ongemaklik. En daarna is dit die lang wag. Gewoonlik behoort jy die uitslag binne 24 uur te hê, maar die agterstand by laborato-riums met Covid-19 toetse, maak dat die horlosiewyser soms effe langer kan loop voor jy uiteindelik weet – positief of negatief.”
“Maar hierdie is klein in vergelyking met waardeur ek al is,” vertel Marisa Louw. Sy moes verlede week vir Covid-19 getoets word as vereiste van ‘n private Johannesburgse kliniek voordat sy opgeneem kon word vir ‘n prosedure as deel van haar kankerbehandeling. Die maatreël is juis om pasiënte en mediese personeel te beskerm omdat die hospitaal tot nou toe nog geen gevalle van die virus gehad het nie.

Sy vertel dat haar dokter vir haar ‘n brief gegee het vir die laboratorium en die nodige patologievorm, want jy stap nie net sommer in en dring daarop aan om getoets te word nie. Sy het sedert die nasionale staat van inperking nog net drie keer uit haar huis gegaan en dan juis vir haar behandeling.

Sy vertel dat sy moes skakel sodra sy by die plaaslike laboratorium kom, waarop personeel haar doktersbrief en vorm nagegaan het. Daarna is die toets gedoen. Haar spesifieke hospitaalplan het nie die R850 vir die toets betaal nie, tensy dit positief sou wees. Marisa se toets was negatief, maar sê sy dat sy die toets as noodsaaklik beskou ter wille van haar en ander se gesondheid, en omdat sy as kankerpasiënt ‘n hoër risiko het. Ook by die hospitaal is die grootste mate van veiligheid en afstand gehandhaaf – want daar is altyd ‘n risiko.
By die hospitaal kon sy net afgelaai word. Geen besoekers is toegelaat nie – slegs in die intensiewe sorgeenheid, neonatale eenheid en vir kritiek siek pasiënte. “Maar vir my was hierdie die minste, want glo my, ek sal spook as ek hieraan moet doodgaan na alles waardeur ek is met kanker die afgelope agt maande,” sê Marisa. “En daarom maak dit my kwaad as mense veiligheidsmaatreëls teen die verspreiding van die virus as ‘n grap sien.”

Related Articles

Back to top button