NewsNews

Bekende politieke ontleder aangeval toe hy rower probeer vastrek

Bekende politieke ontleder aangeval toe hy rower probeer vastrek

Potchefstroom – Die bekende politieke ontleder, prof. André Duvenhage, is verlede Dinsdagaand, 5 Mei by sy huis in Dassierand aangeval en beseer toe ‘n inbreker hom met ‘n skerp voorwerp gesteek het. Hy het ‘n diep steekwond tot op die been aan sy linkerarm opgedoen waar hy meer as een keer gesteek is.

Nadat hy ‘n waarskuwingskoot met sy handwapen afgevuur het, het die inbreker en sy makkers só vinnig op die vlug geslaan dat hulle hulself in die proses uit hul tekkies gehardloop het. Van hulle klere het ook aan die skerp heining van die buurman agter gebly.

Duvenhage, wat ‘n navorsingsprofessor in politieke studies aan die NWU is, het vertel dat dié aanval verband hou met ‘n inbraak wat die vorige Vrydag by sy huis plaasgevind het.

Die vorige Vrydag, 1 Mei is sy bergfiets en ‘n rugsak met sy beursie uit sy motorhuis gesteel. Die motorhuis word aan die voorkant met traliehekke afgesluit en is ontoeganklik vir enige iemand wat dit van die straat se kant af wil binnegaan. Verder word die motorhuis aan een kant afgesper met ‘n hoë binnemuur wat die Duvenhages en hulle bure deel. Volgens Duvenhage het die dief dus vermoedelik toegang tot sy motorhuis verkry oor die muur vanaf die bure se erf.

Dinsdagaand omstreeks 20:30 was Duvenhage in sy kombuis besig om op sy skootrekenaar te werk toe hy ‘n geluid in die motorhuis hoor. Die kombuis is direk langs die motorhuis en word deur diefwering en glasdeure afgesper. Toe hy ondersoek inste, het hy gesien hoe ‘n man sy kop by die diefwering insteek, maar vassit omdat hy nie sy skouers kon deurkry nie. Die diefwering was sowat drie meter van waar hy in die kombuis gesit het.

“Ek het dadelik probeer om die man deur die diefwering na binne te trek. Een van sy makkers het hom weer probeer terugtrek en toe hy sien hy kom nie reg nie, het hy my begin steek,” vertel hy kalm na die tyd. Hy het baie bloed verloor na sy steekwonde, maar het na sy kluis gehardloop en sy handwapen uitgehaal en ‘n waarskuwingskoot teen die muur van sy motorhuis geskiet. Die inbrekers het eers daarna oor die muur gevlug.

Prof. Duvenhage se arm nadat een van die rowers wat by sy huis wou inbreek, hom met ‘n skerp voorwerp deur diefwering gesteek het.

“Na die vuurwapen skoot het die hele buurt soos een man op straat uitgekom om te kyk wat aangaan. Mooirivier Beskerming, waarvan ek nie eers lid is nie, het dadelik opgedaag en my ondersteun,” vertel ‘n dankbare Duvenhage.

Terwyl hy mediese hulp by ‘n plaaslike hospitaal ontvang het, het die polisie opgedaag en ‘n klomp bewysstukke op die toneel gekry, onder meer Duvenhage se rugsak wat die vorige Vrydag uit sy motor gesteel is, asook gesteelde klere en toerusting wat die rowers gebruik het om in te breek. In die rugsak was daar ook ‘n papier met die naam van ‘n persoon wat Vrydag, 8 Mei in die hof moes verskyn.

Kol. Adéle Myburgh, ‘n polisiewoordvoerder van die Noordwes, sê die polisie ondersoek tans ‘n saak van diefstal en ‘n poging tot roof by ‘n woonperseel na die voorvalle by Duvenhage se huis.

https://potchefstroomherald.co.za/72862/bekende-politieke-ontleder-gesteek-toe-hy-rower-probeer-vastrek/

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button