NewsNews

Blohm borrel oor van kreatiwiteit

Blohm borrel oor van kreatiwiteit

Hy praat soos hy sing.
Op die man af, gemaklik en filosofies.
Sy stem is so uniek soos die musiek wat hy maak, sonder om te kyk weet jy, jy praat met Jan Blohm.
Dit is duidelik met die eerste ontmoeting met Jan dat kreatiwiteit aan hom klou soos statiese elektrisiteit. Hy groet vriendelik en vra of ek koffie wil hê. Ek is verbaas, nie oor sy vriendelikheid nie maar oor die verf aan sy vingers en gesig. Terwyl hy so op toer is gebruik hy die geleentheid om een van sy ander passies uit te oefen, skilder.

 

Een van Jan Blohm se skilderye wat hy gewys het.

 

Hy het ’n gallery in die Kaap gekoop om sy kunswerke uit te stal. Hy doen ook beeldhouwerk. Dit is juis tydens ’n gesprek in die beeldhoustudio waar hy aan die idee vir sy nuwe album gekom het.
“Dit is verskriklike kreatiewe mense, ons praat in een minuut oor veertig goed. Dit is vir my baie stimulerend. Dit het net by my opgekom. Hierdie ‘movie’ van hierdie twee ‘kids’ in die somer,” verduidelik hy.
Die album sover getiteld Jenny is ’n storie waarvan elke liedjie ’n deel van die storie vertel.
“Dit is my eerste regte konsep album. Dit gaan oor hierdie twee kinders van ’n spoorweg dorpie wat op mekaar verlief raak. Sy, (Jenny) leer hom dans een aand op die stoep. Maar kort daarna trek hulle weg nadat haar pa en haar boetie oorlede is. Hy het nooit weer vir Jenny gesien nie, maar vir dertig jaar, elke dag vir haar ’n brief in die kraak van haar rooibaksteenhuis gesit. Later vind die buurman die briewe en pos dit na Jenny toe. Sy skryf dan ’n boek oor die gedigte wat vir haar geskryf is, en dit word ’n ‘best-seller’,” vertel hy oor die nuwe album.
Hy het al verskeie toekennings vir sy musiek gewen. Hy besit ’n gallery wat sy kunswerk uitstal. Aanhangers beskryf hom as een van die groot digters van ons tyd. Tog is hy self beskeie oor sy eie vaardighede.
“Ek het na skool besef dat ek nie ’n digter gaan wees nie. Ek is ’n liriekskrywer wat deur digters beinvloed is. Digkuns is vir my die hoogste vorm van kuns. Ek het nie daai talent nie. Ek los dit vir ouens soos Breyten Breytenbach,” sê hy.
Baie aanhangers sal met hom verskil, veral omdat sy musiek mense se lewens op een of ander manier geraak het. Blohm sê self dat sy musiek stories in so manier vertel dat dit die luisteraar se storie ook kan wees, maar hy besef nie die impak van sy musiek op sy aanhangers nie.
“Ek doen nie, ek meen ek word nie in die oggende wakker en dink vir myself dat ek mense red nie. Mense het seer, hulle luister dalk na my goed en voel beter. Dit maak my nie ’n ghoeroe nie, ek doen niks spesiaal nie,” maan hy.

Jan Blohm glo dat musiek ‘n dialoog tussen musikant en gehoor is. Foto: Tian du Preez Film and Photography

Hy hou vol dat hy net iemand is wat liedjies skryf en daarvan hou om dit vir mense te sing. Wat hulle daarmee maak het hy nie beheer oor nie.
“Uit die aard van die saak is ek mal daaroor om daai energie te kry en aan te voel wanneer ek optree,” verduidelik hy.
Die vlakke van intensiteit van sy vertonings wys dat die eenvoudige filosofie wat Jan volg ’n wenresep is.
“Ons wil elke ‘show’ ons beste een maak. Want dit is altyd iemand se eerste ‘show’ en altyd iemand se laaste ‘show’. Ons speel vir daai mense,” vertel hy.
Volg Jan Blohm op Instagram @janblohm2020 en op Facebook om te sien waar hy volgende optree.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button