NewsNews

Bekende regshulpkenner oorlede

Bekende regshulpkenner oorlede

Prof. Schalk Meyer (70), wat sedert 1990 diep voetspore by die Noordwes Universiteit, Potchefstroom Regskliniek getrap het, is Saterdag, 2 Mei by sy huis aan ‘n hartaanval oorlede.

Hy is op 3 April 1950 op Warburton in Mpumalanga gebore en is as Schalk Willem Jacobus Meyer gedoop. Vir die meeste was hy net bekend as Oom Schalk, die sagmoedige reus wat ‘n mentor vir so baie mense was en geglo het dat geregtigheid ook vir armes beskore is.

Hy het sedert 1975 as staatsaanklaer en regspraktisyn gewerk voor hy in 1990 as adjunk-direkteur van die Regskliniek by die destydse Potchefstroom Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys aangestel is.

In 1994 word hy die direkteur van die regskliniek tot en met sy aftrede in 2015, maar hy bly betrokke by die kliniek as deel van die bestuurskomitee waar hy as projekbestuurder van eksterne programme optree.

Hy het voortgegaan om praktiese klasse aan te bied en finalejaar regsstudente se praktiese modules van die regskliniek te assesseer. Hy het ook fondse ingesamel om die kort leerprogramme en kort kursusse aan te bied wat hy vir die regskliniek ontwikkel het.

Oom Schalk was die programbestuurder van die Vereniging van Universiteit Regshulpinstellingstrust (Association of University Legal Aid Institutions Trust/AULAI) wat die primêre organisasie is om universiteit regsklinieke in Suid-Afrika te befonds. Sy fondsinsamelings het verskeie volgehoue regshulp- en advieskantore in Suid-Afrika help vestig.

Hy dien ook op verskeie ander komitees waarvan die Ereveldwagters hom die naaste aan die hart lê vanweë sy liefde vir die natuur. Prof. John Botha wat saam met hom op die bestuurskomitee van die Ereveldwagters gedien het, sê van Schalk die volgende: “Tydens die afgelope paar jaar het ek Schalk baie goed leer ken terwyl hy aan die hoof gestaan het van baie konstitusionele en beleidsveranderings binne die Sanparke Ereveldwagters. Hy was ‘n mens met ‘n diepe empatie vir ander en sy aanvoeling vir die goue middeweg het hom as ‘n diplomatiese probleemoplosser gekenmerk. Ons kon op Schalk vertrou, ons het by hom baie geleer en saam het ons baie ure aan natuurbewaring spandeer. As lid van die Bakenveld Sanparke Ereveldwagters het hy ‘n reuse bydrae gelewer tot ons streek asook teenoor die organisasie in die geheel. Maar hy was in die finale instansie ‘n getroue vriend, ‘n ware Christen, ‘n staatmaker. ‘n Man met ‘n fyn sin vir humor en bo alles ‘n man met onberispelike integriteit. Ek gaan hom werklik baie mis.”

Oom Schalk sal ook onthou word as die oupa met die pyp wat altyd met familiebyeenkomste koffie gemaak het. Hy laat sy vrou, Ina, sy seuns, Schalk, Piet en Coenie, sy skoondogters, Sandra, Irene en Carla asook sy sewe kleinkinders en suster, Joey Meyer agter.

‘n Gedenkdiens vir naaste familie en vriende word  Woensdag, 6 Mei om 11:00 by NG Kerk Mooirivier vir hom gehou. Slegs 50 mense mag die diens bywoon weens die inperkingsregulasies. Mense wat graag die diens wil bywoon, moet teen Dinsdagaand vir Sandra Meyer by 076 768 0597 skakel om seker te maak daar is plek.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button