News

Isolasie inspirasie:

Doen wat jy vir ander kan doen met wat jy nou het

Wat is op die oomblik in jou gedagtes: Vrees, angs, paniekerigheid, ’n gevoel van wanhoop? Covid-19 is seker die onderwerp wat die meeste bespreek word in elke uithoek van die aarde. As ek my 5-jarige kleinseun vra hoe dit gaan, is sy antwoord: “Dit gaan goed Oupa, maar daai gogga is nog nie weg hier nie.”
Hoeveel van ons regoor die wêreld word die afgelope paar weke met emosies wakker in die oggend wat ons nog nooit ervaar het, of mee gekonfronteer is nie? Baie van ons sit in situasies waar ons met ander se emosies moet deel wat hierdie hoofstuk in ons geskiedenis baie moeiliker hanteer, en dit vir hul geliefdes en ander om hulle dan baie moeilik maak.

Mense raak angstig omdat hulle onseker is vir die onseker daar buite. Wat van môre is die vraag?
Wat ek oor die jare besef het, is dat my eie angstigheid die meeste van die tyd sy oorsprong in my eie stresvlakke gehad het. Hoe hoër my stresvlakke was, hoe hoër was die mate van angstigheid wat ek ervaar het. Dit het die meeste van die tyd in vrees omgesit wat my vermoë om reguit te dink, heeltemal verblind het. Mense hanteer dinge soos hierdie op verskillende maniere, maar ons almal moet onthou – maak nie saak waardeur jy gaan nie – daar is ’n “support” groep daar buite. Tegnologie maak dit tog makliker, alhoewel ons nie nou die persoonlike kontak het wat so verskriklik belangrik is nie. Dit is belangrik om jou “coping mechanism” te identifiseer in dié tyd en daarvan gebruik te maak. Mense wat wel hul “coping mechanisms” ontdek in die tyd, hanteer dit verskillend, en party met groot sukses. Party gaan fikser wees. Ander gaan ‘n nuwe taal aangeleer het. Ander het selfs leer skryf, skets, verf, houtwerk en naaldwerk doen.

Dan gaan daar ook die groep wees wat net daar gaan uitstap en vir wie die toekoms moeiliker en donkerder gaan wees. Ek dink dit is die perfekte tyd om gebruik te maak van die wyshede uit die verlede soos Martin Luther King (jr.) gesê het – die nommer een vraag wat ons in tye soos dié kan vra is, wat kan ek vir ‘n ander doen, hoe kan ek help? Hoe kan ek ’n verskil maak?
My persoonlike gevoel is om na mekaar uit te reik en seker te maak dat ons uitvind wat die verskil is. Wat die verskil moet en kan maak. Ons moet op ‘n punt kom waar ons op die Here se stem sal reageer en sal weet waar en wat die behoefte is, sonder dat ons mense in ‘n posisie sal plaas waar ons hulle verneder omdat ons voel hulle “moet praat omdat ons nie kan ruik hulle het hulp nodig nie.”
Dalk het dit tyd geword dat ons meer sensitief begin raak vir die swaarkry en behoeftes in ons gemeenskappe en dalk minder op onsself fokus. Daar is baie verskillende organisasies wat hulp nodig het en waarby ons betrokke kan raak en ’n bydrae lewer. Die mens is geskape om te werk en in ‘n tyd waar ons verbied word weens omstandighede buite ons beheer, is die beste manier ons bydrae om ander te help. Dit is belangrik om liggaamlik en geestelik op koers te bly en ons fokus te skuif van dit wat so verkeerd en onregverdig is, na die mense in ons onderskeie gemeenskappe. Ons moet doen wat ons kan doen met dit wat ons nou tot ons beskikking het.

Related Articles

Back to top button