NewsNews

Geliefde oud-onderwyseres sterf

Geliefde oud-onderwyseres sterf

Martie Steyn was vir 19 jaar ‘n onderwyseres voor sy met Huntington’s chorea gediagnoseer is.

Martie Steyn, ‘n oud-onderwyseres van Laerskool Mooirivier is Donderdag, 9 April oorlede nadat sy vir 12 jaar aan Huntington’s chorea gely het. Sy was maar 41 jaar oud toe sy en haar gesin die skokkende diagnose van ‘n dokter ontvang het. Huntington chorea is ‘n siekte wat stelselmatig senuweeselle in die brein vernietig.

Die Steyn-gesin net voor Martie siek geword het. Voor is Vicki, agter is Bianca, Piet en Martie.

Haar man, Piet Steyn, ‘n senior bestuurder in studentewerwing van die Noordwes Universiteit was vir 32 jaar met Martie getroud en het saam met sy twee dogters Bianca en Vicky die moeilike stryd saam met haar aangepak.

“Ons het vermoed iets is nie pluis nie toe Martie angsaanvalle begin kry en een van haar regtervingers onwillekeurig begin beweeg het”, vertel Piet.

Martie moes ongeveer ‘n jaar na haar diagnose in Groenwilgers gaan bly het, omdat sy gekontroleerd medikasie en toesig moes kry. Sedert Julie 2018 het sy voltydse versorging by Huis Anna Viljoen ontvang.

Huntington’s corea tas ‘n pasiënt se motoriese, kognitiewe en psigologiese vermoëns aan wat onwillekeurige bewegings, spierkontraksies en probleme met spraak en sluk tot gevolg het. Probleme met konsentrasie, geheueverlies, sosiale ontrekking en depressie kan ook voorkom. 

Pasiënte se simptome is egter nie almal dieselfde nie en Piet onthou hoe Martie altyd na haar leerlinge by die skool en die koor verlang het en hoe sy al haar leerlinge se name tot op die einde nog onthou het. “Martie het haar siekte en gepaardgaande simptome met humor hanteer sonder om te kla. Dit was vir ons ‘n aansporing en ‘n voorbeeld. Haar liefde vir die Here sal ons altyd bybly. Om Sondae kerk toe te gaan was vir haar die hoogtepunt van die week,” vertel Piet.

Martie is op 7 Januarie 1967 in Vryheid, Kwazulu Natal, gebore en het later in Durban en Welkom groot geword. Sy matrikuleer aan Welkom Gimnasium en het in 1988 haar Onderwysdiploma met lof aan die destydse Potchefstroomse Onderwyskollege ontvang.

Vir die gesin was dit baie moeilik om ‘n vrou en ‘n ma stelselmatig te sien agteruitgaan: “… maar ons kon die trauma hanteer met die ondersteuning van familie, opregte vriende en met die leiding en onderskraging van ons Hemelse Vader,” sê Piet.

Na Martie se dood, tydens die inperkingstyd, het hulle ‘n klein familie-afskeid gehou omdat ‘n begrafnis baie beperkinge het, maar die gesin beplan om wel na die inperktyd ‘n viering van haar lewe te hou. Die datum en tyd sal later bepaal word wanneer vriende en familie dit almal kan bywoon.

ń Onlangse foto vroeër vanjaar met 22-jarige Vicki (middel) se gradeplegtigheid. Links is Bianca (26) en regs is Piet. Martie was toe te siek om die plegtigheid by te woon.

Related Articles

Back to top button