NewsNews

So werk howe nou

So werk howe nou

President Ramaphosa het op 23 April aangedui dat die inperking in vlakke uitfaseer sal word, en sal die land as geheel op 1 Mei van vlak 5 Inperking na Vlak 4, beweeg. Dit beteken dat Suid-Afrikaners meer vryhede toegelaat word, maar steeds binne streng perke en maatreëls.
Die feit dat meer as 70 000 lede van die weermag ontplooi is het menige regslui in Suid-Afrika egter ‘n kopseer besorg, oor die posisie van die regsberoep en die howe tydens die voortgesette inperking.
Daar word tans streng kontrole toegepas by landdroshowe met betrekking tot toegang van lede van die publiek.
Die aantal persone wie die hofgebou mag binnegaan word beperk. So ook word die aantal persone in ‘n hofsaal beperk tot net die beskuldigde/s, getuies, partye betrokke in siviele en Kinderhofsake, asook die onderskeie prokureurs. Geen lede van die publiek word in hofsale toegelaat nie, behalwe in gevalle waar ‘n minderjarige bygestaan word deur sy ouer of voog.
Alle hofpersoneel, prokureurs en lede van die publiek moet ‘n afstand van minstens een meter sosiale distansiëring handhaaf. Prokureurs hoef nie hulself aan die landdros of voorsittende beampte te gaan voorstel in kamers nie, maar kan dit in die ope hof doen. Geen lede van die publiek mag die landdros se kamers binnegaan nie, en enige navrae moet per e-pos slegs aan die hooflanddros gerig word. Alle nodige gesondheidsriglyne moet ook gevolg word.
Wat siviele aangeleenthede betref, hoor die laer howe tans nog net dringende aangeleenthede aan. Alle ander aangeleenthede is waar moontlik uitgestel, of van die rol verwyder om na die 30ste April weer op rol geplaas te word. Tans moes geen van die partye in siviele sake in die hof teenwoordig wees as die sake uitgestel word nie.

In die Kinderhowe sal geen aangeleentheid van die rol verwyder word weens afwesigheid nie. Alle aangeleenthede sal dus uitgestel word, en maatskaplike werkers moet eedsverklarings indien oor die toestand van kinders onder pleegsorg. Enige aangeleenthede waar daar verslae ingedien moet word, sal uitgestel word. Geen kinders mag die hofgebou binnegaan nie
Alle aangeleenthede rakende bestorwe of insolvente boedels, word ook nou net uitgestel in die afwesigheid van die partye.
Wat onderhoudsaangeleenthede betref, skakel die klerk van die Kinderhof die partye tans en voorsien hul van nuwe datums. Geen lasbriewe vir inhegtenisname word uitgereik nie, maar word geen sake ook van die rol verwyder nie. Dieselfde geld vir aangeleenthede wat tans op die rol is vir die Hof vir Gesinsgeweld.
Wat strafaangeleenthede betref, moet die landdros alle borgaansoeke en uitstelle vir verdere ondersoek hanteer maar net enkele sake wat reeds op die verhoorrol geplaas is, gaan voort. Wat die verhoorrol betref, word slegs daardie aangeleenthede waar die beskuldigdes in aanhouding is en spesiale rekwisisies uitgestuur kan word om hul voor die hof te bring, met spesiale reelings wat getref word met hul regsverteenwoordigers, hanteer.
Waar die beskuldigde onder borgtog of waarskuwing voor die hof is, word die aangeleenthede slegs uitgestel. Sover moontlik sal die howe ‘n lasbrief vir arres of bevel vir verbeurdverklaring van borggeld, oorhou tot na die tydperk van inperking.

Die posisie vir die hoër howe (Hoë Howe, Appelhowe, ens) is deur hoofregter Mogoeng Mogoeng uiteengesit in 8(3)(b) van die Wet op Hooggeregshowe. Hiervolgens word strafverhore wat tydens die inperkingstydperk verhoor sou word, uitgestel na datums buite die inperkingstydperk, terwyl siviele verhore van die verhoorrol verwyder word om later weer op die hofrol geplaas te word. Waar siviele aangeleenthede geskik word, kan die aangeleentheid voor ‘n voorsittende beampte in kamers hanteer word.
Ongeopponeerde aansoeke wat reeds op die hofrol was, kan waar moontlik per video-konferensie aangehoor word, en indien dit nie moontlik is nie, word die aangeleentheid van die rol verwyder of uitgestel na ‘n datum na afloop van die tydperk van inperking.
Geopponeerde aansoeke mag op skriftelike hoofde van betoog aangehoor word wat per elektroniese pos versend word, of per video-konferensie.
Dringende aangeleenthede word wel aangehoor asook dringende sake wat verband hou met aktiwiteite wat deel vorm van rampbestuur.
Prokureurs kan vanaf 1 Mei weer vanaf hul kantore begin werk en konsulteer, maar slegs indien daar ook by streng voorsorgmaatreëls gehou word soos die beperking van die aantal persone wie op ‘n slag binne die prokureurskantore mag wees, die dra van maskers en beskikbaarheid van handwas middels en termometers.

Watter sake na die 30ste aangehoor sal word, is nog nie in besonderhede bekend nie, maar mense mag steeds nie oor provinsiegrense beweeg nie, en sal die publiek dus sou hulle in ’n hof in ‘n ander provinsie moet verskyn, om ‘n permit moet aansoek doen om vir daardie doeleindes oor provinsiegrense te kan beweeg.
Daar sal ook steeds streng kontrole toegepas word oor die aantal persone binne die hofgeboue. Geen lid van die publiek of regslui sal toegelaat word om die howe te besoek, sonder die dra van maskers nie.
Die aktekantoor maak gedeeltelik oop om aangeleenthede waar koopkontrakte reeds onderteken was en die oordragsproses reeds aan die gang was voor die tydperk van inperking, af te handel. Aangesien beweging steeds streng ingeperk word op Vlak 4, word daar voorsien dat enige nuwe oordrag van eiendom dalk nie onmiddellik hanteer sal kan word nie.

 

Related Articles

Back to top button