Photo GalleriesSport

Pa en seun gooi kreatiwiteit by oefeninge

Pa en seun gooi kreatiwiteit by oefeninge

Vir talle skoolkinders regoor Suid-Afrika en spesifiek Potchefstroom met sy ruime en uitstekende sportgeriewe kan dit nogal frustrerend raak om nie aan jou geliefkoosde sportsoort deel te neem nie.

Waar hulle gewoonlik op Saterdag aktief hulle talente voor talle ouers en ondersteuners uitgebeeld het, moet hulle nou by hulle huise sit weens die Covid-19 inperking.

Daar is wel kreatiewe oplossings tot hierdie dilemma as ‘n mens kyk na hoe Potchefstroom Gimnasium se SA kampioen spiesgooier, Armand Willemse, tydens die inperking oefen.

Armand, ‘n Graad 10-leerder, spog met ‘n fantastiese oefenprogram in hierdie tydperk waar hy en sy pa, Chaka Willemse (voormalige provinsiale rugbyspeler en Luiperds assistant afrigter) saam oefen as pa en seun. Chaka rig vir Armand met sy spiesgooi af en hierdie familie-kombinasie werp beslis vrugte af met Armand wat alreeds op o.16-vlak met ‘n afstand van 69.94 meter spog.

“Vir my is die belangrikste in hierdie tyd dat Armand steeds die oefeninge geniet en soveel as moontlik aan te gaan soos normaal sodat hy nie uit roetine raak nie. My een reel is dat ek hom voluit ondersteun. Hy maak dit vir my ook lekker omdat hy baie moeite insit en weet wat dit verg om heel bo te kom en daar te bly. ” vertel Chaka.

Chaka Willemse

Armand se oefenprogram lyk soos volg: Op Maandae draf hy ‘n klomp rondtes en oefen sy maagspiere. Daar word ook op bene gefokus en spronge in die middae. Tesame word daar ook baie statiese strekwerk gedoen.

“Op Dinsdae werk ons aan sy gooie en dinamiese strekke. Ek het ‘n spesiale maganisme waarmee Armand gooi wat met ‘n 30 meter kabel werk sodat hy daardie gevoel behou wanneer hy gooi, sonder dat die spies te ver trek. Ek maak die kabel teen ‘n paal vas en met ‘n spies wat oopgesny aan albei kante is kan die kabel nou ‘n ankerpunt agter hê om die korrekte hoogte tussen 32-38 grade te behou wanneer Armand die spies loslaat. So weet hy hoe dit voel wanneer sy arm deurkom,” verduidelik Chaka.

Volgens Chaka is dit ook belangrik dat skoolatlete gebruik wat hulle het om te oefen en so kreatief as moontlik bly om regte kompetisie-omstandighede te simuleer.

“Ons gebruik medisyne-balle op Donderdae om bolyf te oefen, maar ‘n mens kan byvoorbeeld ook bakstene gooi as plaasvervanger. Gebruik wat jy het,” meen Chaka.

Op Woensdae en Vrydae is Armand weer besig om maagoefeninge te doen en aan sy “core” te werk terwyl hy ook genoeg vog inneem. Woensdae is ook sy hersteldag, en of dit nou in of buite inperking is hanteer hulle dit so.

“Saterdag is ons kompetisie dae, so ons probeer om soveel as moontlik ‘n kompetisie-omgewing te simuleer. Armand visualiseer dat hy die stadion ingaan en gooi dan ‘n paar oefen-gooie. Net soos by ‘n byeenkoms sal hy dan ook ses vol gooie gooi. So hou hy aan om daardie gevoel te ontwikkel om gefokus te bly wanneer die kompetisie-element daar is,” sê Chaka.

Buiten dat Armand fiks bly en die beste van die inperking maak is dit ook belangrik dat hy ook op sy skoolwerk fokus en gebalanseerd lewe.

“Dit is ‘n ongelooflike bonus vir my dat ons altwee mekaar kan uitdaag en nou meer as ooit goeie kwaliteit tyd saam kan spandeer. ‘n Kind het daardie ondersteuning nou meer as ooit nodig en nou kan mens weer as gesinne bymekaar kom, wat belangrik is,” noem Chaka.

“As ek raad kan gee vir atlete is dit dat hulle genoeg water drink, gesond bly eet en oefeninge so kreatief as moontlik maak sowel as om die oefeninge in kleiner dele te verdeel sodat dit nie vervelig word nie. Visualiseer, dink uit die boks en geniet dit.”

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button