News

Pasiënte kla oor COVID-19 eenheid in Klerksdorp Hospitaal

Pasiënte kla oor COVID-19 eenheid in Klerksdorp Hospitaal

Twee pasiënte wat gedwing was om in die COVID-19 eenheid van die Klerksdorp Hospitaal te bly terwyl hulle vir hulle toetsuitslae wag, het hulself tot ‘n VF Plus raadslid gewend om die haglike toestand van die eenheid aan te spreek.

Klerksdorp is tans as die COVID-19 hospitaal in die Noordwes Provinsie aangewys.

Die pasiënte het gekla oor vuil toilet- en wasgeriewe en ‘n omgewing wat oor die algemeen baie onhigiënies is. Hulle het vir drie dae, sedert Woensdag, 15 April nie lopende water gehad nie en was gedwing om die toilet- en badgeriewe van ander sale te gebruik. Daar was ook nie saniteerders beskikbaar nie.

Eers toe Erns Kleynhans, die Vryheidsfront Plus se lid van die provinsiale wetgewer, die omstandighede dieselfde dag nog onder die aandag van die LUR van gesondheid in die Noordwes Provinsie, Madoda Sambatha, gebring het, is daar opgetree.

Die volgende dag het kontrakteurs opgedaag en ‘n bad, toilet asook die waterpype vervang.

Beide pasiënte is gedwing om in die COVID-19 eenheid opgeneem te word. Hulle sou egter verkies het om by hulle huise in kwarantyn te bly totdat hulle uitslae bekend geword het.

Tebogo Lekgwethwane, die woordvoerder van Noordwes se department van gesondheid, sê mediese dokters bepaal of ‘n pasiënt selfkwarantyn kan toepas of nie. Selfkwarantyn is geskik vir mense wat asimptomaties is (nie simptome toon nie) of mense wat op hul toetsuitslae wag, maar nie simptome het nie. Wanneer pasiënte reeds siek is, soos in die geval met die twee, is die kans goed dat hulle eerder in die hospitaal onder kwarantyn geplaas sal word.

Nico Masiu, woordvoerder van die Klerksdorp Hospitaal, sê een van die pasiënte het asemnood gehad as gevolg van longontsteking en moes behandeling in die hospitaal ontvang. Sy toestand het met die antibiotiese behandeling verbeter terwyl hy in kwarantyn was.

Kleynhans sê egter daar is baie grys areas rondom selfkwarantyn. “Veronderstel ‘n pasiënt wag op uitslae en het ernstige griepsimptome, dan is die kans dat hy wel die koronavirus gaan opdoen, groter in die COVID-19 eenheid as by sy eie huis.

“Ons moet meer duidelikheid rondom die wetgewing kry omdat dit ‘n vrees by die gemeenskap sal skep dat hulle gedwing sal word om opgeneem te word.”

Intussen verseker Masiu die publiek dat die waterprobleme by die Klerksdorp Hospitaal opgelos is en dat nodige reinigingsmaatreëls ingestel is.

“Die kwarantyneenheid word gereeld met die regte skoonmaakmiddels gewas en gapings wat in protokol voorgekom het, is aangespreek”, verseker Masiu.

https://potchefstroomherald.co.za/72370/pasiente-kla-oor-covid-19-eenheid-in-klerksdorp-hospitaal/

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button