NewsNews

‘n Viroloog se perspektief op die Coronavirus

‘n Viroloog se perspektief op die Coronavirus

Die wêreldwye COVID-19 (koronavirus-siekte 2019) krisis en die staat van inperking voel soos ‘n apokaliptiese nagmerrie wat eerder in ‘n futuristiese film hoort as die huidige situasie waarin ons onself bevind.

Die Herald het ‘n plaaslike dosent en navorser in virologie, prof. Albie van Dijk, ‘n paar vrae gevra om haar perspektief oor die gevreesde koronavirus te kry.

Prof. Van Dijk het 42 jaar ondervinding in molekulêre virologie en biologie, biotegnologie en rekombinante vaksinologie en Biochemie. Sy was vir 23 jaar by Onderstepoort Veeartsenykunde Instituut aangestel waar sy onder meer navorsing gedoen het in molekulêre virologie en die ontwikkeling van rekombinante entstowwe vir diere.

Daarna het sy vir vyf jaar tussen Suid-Afrika, Finland en Australië gereis om navorsing te doen oor onder meer insekvirusse, bakteriese virusse en menslike rotavirus voor sy uiteindelik as senior navorser en dosent by haar alma mater aangestel is.

Sy is tans ‘n dosent en navorser by die vakgroep Biochemie aan die NWU Potchefstroomkampus waar sy aan bekostigbare rekombinante entstowwe teen rotavirus diarree werk. Hierdie mag uiteindelik bydra tot die ontwikkeling van antivirale strategieë en nuwe terapie – soortgelyk aan die benaderings en tegnieke wat tans oral in die koronavirus terapie- en entstofontwikkelings gebruik word.

Prof. Van Dijk is van mening dat die regering se inperkingstrategie vir Suid-Afrika die vinnigste en besliste optrede is wat ons kon doen. Volgens haar is die inperking bloot om tyd te koop om vyf belangrike take in werking te stel:

Eerstens om beter te kan voorberei vir die groot aantal pasiënte wat verwag kan word sodat ons sukkelende klinieke en hospitale nie in die wintermaande oorweldig word nie.

Tweedens sodat daar antikoronavirus terapeutiese middels geïdentifiseer, ontwikkel, getoets en beskikbaar gestel kan word. Dit kan 6 tot 12 maande op die vroegste wees.

Derdens moet entstowwe ontwikkel word. Suid-Afrika sal waarskynlik nie voor vyf jaar daarvan kry nie, omdat die ander lande eers aan hulself sal voorsien.

Vierdens moet ons vasstel of die HIV/Aids antivirale middels dalk ook die SARS-CoV-2 virus replikasie effens sal rem.

Vyfdens moet ons vasstel of ons relatiewe jong bevolking (27.6 jaar) minder siek gaan word.

Prof. Van Dijk noem dat die grootste meederheid mense wat aan die virus blootgestel en besmet word, asimptomaties bly of net baie ligte simptome het. “Verreweg die minderheid word regtig baie siek en van daardie minderheid sterf net ‘n deel.”

Sy is verder baie seker wanneer sy sê dat die SARS-CoV-2 virus wat COVID-19 versoorsaak nie gaan verdwyn nie. “Dit is hier om te bly en sirkuleer van nou af. Almal sal een of ander tyd daaraan blootgestel word. Hoe later, hoe beter, want oor ‘n jaar of twee weet ons al baie meer en is daar dalk al effektiewe antivirale middels wat gebruik kan word.”

Prof. Van Dijk sê ook dat niemand nog presies weet waarom mense so uiteenlopend teenoor die virus reageer nie. “Die inligting wat nou wêreldwyd ingesamel word saam met die enorme navorsingspogings sal met tyd meer duidelikheid bring.”

Die Wêreldgesondheidsorganisasie is tans besig om met wetenskaplikes, mediese dokters, befondsers en vervaardigers reg oor die wêreld saam te werk om ‘n entstof teen die virus te ontwikkel. In Suid-Afrika is prof. Shabir Madhi, ‘n viroloog aan die Universiteit van die Witwatersrand, hierby betrokke.

Hoewel daar heelwat berigte in die media is oor die moontlike voordelige effek wat BCG-inenting (teen tuberkulose) teen die verspreiding van die koronavirus het, raak prof. Van Dijk nie baie opgewonde hieroor nie. “Dit sal ‘n groot geluk wees, maar die berigte daaroor is nie naastenby op genoeg werklike data gebaseer nie.”

En die beste raad wat sy vir die publiek het om nie die virus op te doen nie is kort en kragtig: “Isoleer jouself. Bly binne en weg van ander mense af.”

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button