NewsNews

Potch se grimeer-guru blink saam met Casper op die Kassie

Potch se grimeer-guru blink saam met Casper op die Kassie

Toe Potchefstroom se unieke, hardwerkende en ambisieuse grimeerkunstenaar, Stephan Venter, se pad met die welbekende komediant en TV-persoonlikeid, Casper de Vries kruis, was daar flambojante en byderwetse vuurwerke.

Hierdie mode-ontploffing het op 6 April, op die nuwe kykNET-reeks,  Cas op die Kassie, begin.

Volgens Venter was dit ‘n geleentheid wat hy nie kon misloop nie, aangesien hy met sy eie energieke styl as ‘n karakter in een van Casper se segmente in die modeprogram verskyn – voorheen het hy meer agter die skerms in TV-reekse gewerk.

“Ek het twee jaar gelede grimering vir ‘n Via-TV-reeks, Heidi Hollywood gedoen waar ek toe ook twee onderhoude gedoen het. Verlede jaar net so voor Desember het ek ‘n oproep gekry waar die vervaardigers van Cas op die Kassie my gebel het om voor die skerms as een van die karakters op Casper se nuwe reeks te wees.”

Volgens Venter was hy en Casper de Vries al met die eerste ontmoeting toe hulle aan die reeks begin beplan het, soos vinkel en koljander.

“Casper-hulle het na my onderhoude op Heidi Hollywood gekyk en het gevoel dat ek die ideale karakter sou wees. Die voorbereidingsproses en die vergaderings wat ons met Casper gehad het om idees en konsepte uit te ruil, was lekker, asook om hom as mens te leer ken.”

Die grootste uitdaging vir Venter in die skiet van die reeks was om konstant sonder skroom te improviseer.

“Ek dink my drama-agtergrond het my ook gehelp. Sodoende kon ek met rustige emosies speel terwyl ek vloeiende idees en konsepte uit my subjektiewe brein haal,” verduidelik hy die proses.

Venter is in sy noppies met sy betrokkenheid in die reeks en glo dat dit iets sal wees wat kykers nie kan misloop nie.

“Casper de Vries se humor was nog altyd uniek. Ek kom agter dat die ouer garde nie kan identifiseer met sy humor nie. Daar is ‘n nuwe generasie wat wel daarmee kan identifiseer. Ek dink dit is iets nuuts en anders op kykNET. Dit is ‘n baie ‘over the top’ mode en grimering-segment tussen my en Casper en mense sal spyt wees as hulle dit mis,” noem hy.

“Ek hou van alle grimeringstyle”

Venter is ‘n bekende in Potchefstroom en het met sy styl al baie eer vir sy grensverskuiwende werk ontvang. Venter se liefde vir grimering het al in die 1990’s begin en nou het hy al twee dekades se ervaring op sy grimeerkwas.

Hy het in die 90’s nadat hy musiek en drama studeer het, met verhooggrimering agter die skerms begin. Van daar af het hy ‘n groot belangstelling in media-grimering gehad wat mode, tydskrifte, TV en fotografie insluit.

“Ek het in die begin vir baie besighede gewerk, maar vir my visie om te groei, moes ek my eie ding begin doen. Ek beplan om een of ander tyd my eie grimeringsreeks uit te bring. My visies en drome is nog altyd groot omdat ek hoë mikpunte vir myself het. Om ‘n vryskutgrimeerkunstenaar te wees maak meer deure oop en is ook finansieel beter,” noem Venter, wat al 20 jaar in die industrie werk.

“Mense inspireer my”

Hierdie grimeringskenner se liefde vir mense is iets wat hom daagliks inspireer onder vele ander aspekte van die lewe wat hom boei.

“Om al die verskillende persoonlikhede te ontmoet tussen die kliënte is vir my baie opwindend. Mode is anders as ‘n troue en ‘n troue is nou weer anders as grimering vir ‘n TV-aanbieding of ‘n tydskrif fotosessie… So elkeen het sy plek en stimuleer my om anders te dink,” noem hy.

Venter is ook alombekend vir sy nie-tradisionele Avant Garde-styl wat sy kreatiwiteit uitstekend ten toon stel.

“Dit is vir my baie belangrik om enige tipe styl van grimering te kan doen. My niche is Avant Garde en High Fashion. Dit is vir my kreatief en ek het vryheid om my kunssinnigheid sonder perke uit te beeld.”

Stephan Venter is bekend vir sy unieke styl en liefde vir grimering.

“Jy transformeer mense”

“Met Avant Garde transformeer jy die model van ‘n gewone menslike “canvas” na enige iets wat jy wil hê. Die mens ondergaan ‘n metamorfose en verander dan opsigself in ‘n kunswerk wat hulle persoonlikheid uitbeeld,” vertel hy.

Venter noem ook hoe lyftaal en kommunikasievaardighede ‘n groot rol in sy loopbaan speel.

“Public speaking” en kommunikasie was vir my nog altyd baie interessant. As jy nie lyftaal kan lees of kommunikeer nie, sny dit omtrent 50 persent van jou sukses uit. Baie kunstenaars moet meer met mense kan kommunikeer,” meen hy.

“Jou denkwyse, houding, verbale en nie-verbale kommunikasie is van kardinale belang. Die manier hoe mense beweeg en praat is vir my fassinerend,” noem Venter wat ook vir die afgelope vier jaar kommunikasieklasse by Potch Akademie aanbied.

“Ek het baie met mense te doen en meet dit aan my eie menswees. Ek bestudeer graag verskillende filosofieë, die geskiedenis en hoe ons al verander het as mense deur die jare. As gevolg van my kunsagtergrond inspireer die natuur my ook.

“Ek is plat op die aarde, baie ambisieus en sien mense vir wie hulle is. Ek hou van regverdigheid, eerlikheid en om my talente so goed as moontlik te gebruik. Harde werk het my al ver gebring.”

“Lockdown is vir my ‘n seën”

Natuurlik bring die huidige inperkingsperiode weens COVID-19 ook sy eie uitdagings vir Venter, maar vir hom is dit ‘n geleentheid om op nuwe idees en homself te fokus.

“Ek hou daarvan om voor die tyd idees te hê in my kop en op dit te bou in hierdie tyd. Die “lockdown” seën my omdat ek dan meer tuis kan wees. Ek gebruik dit om vir myself te vra, waar ek tans is en waarheen ek op pad is.”

Die toekoms is blink vir Venter, juis omdat hy doelgerig is, weet wat hy wil hê en sy drome uitleef.

“Om die vrugte van my harde werk te kan pluk sowel as om vorentoe te kan beplan maak my baie trots. Al die sweet en trane wat daarin gaan is dan die moeite werd wanneer alles reg uitkom. Die balans is om in jouself te glo om die regte keuses te maak.”

grimeer

Related Articles

Back to top button