NewsNews

‘Sonder VVA sou my lewe armer wees’

‘Sonder VVA sou my lewe armer wees’

“Sonder Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) sou my lewe baie armer wees. Elkeen het ‘n plek in my hart. Daarom is dit nie ‘n afskeid nie.”
So sê Darien Oosthuizen, direkteur van VVA wat na elf jaar se ongelooflike toewyding en leiding wat sy as direkteur in die organisasie geneem het, die tuig einde April sal neerlê om hier in haar tuisdorp waar sy ook haar skoolloopbaan voltooi het, te kom aftree.
Stilsit gaan Darien beslis nie. Sy sal steeds help met die opleiding van VVA se hulpwerkers en gemeenskapswerkers, sowel as kinder- en jeugsorgwerkers. En tussendeur ook haar groot liefde vir tuinmaak uitleef.

Darien het maatskaplike dienste aan die Pretoriase Universiteit studeer, en toe in Lichtenburg by die CMR (Christelike Maatskaplike Raad) begin werk as maatskaplike werker.

Vandaar het haar paaie ook met die Kroonstadse en Vanderbijlparkse CMR-takke gekruis, waarna sy in die tagtigerjare as maatskaplike werker by die destydse OVV (Oranje Vroue Vereniging) in Parys as maatskaplike werker ‘n pos aanvaar het.
Die OVV het mettertyd naam verander om as VVA bekend te staan soos Parysenaars die organisasie vandag ook ken.
Darien het in 2000 eers streekbestuurder van die organisasie se Noord-streek geword, en in November 2009 die pos aanvaar as direkteur van die organisasie, waarop sy van Parys na Bloemfontein verhuis het.

Verskeie mylpale in die dienslewering aan kinders, bejaardes en gesinne is onder haar bekwame leiding behaal, waaronder VVA se deelname aan die NAWONGO regsaksie in 2010 teen die departement maatskaplike ontwikkeling, waarin aangevoer is dat die finansieringsbeleid nie konstitusioneel is nie, en subsidies onvoldoende. Die uitkoms was dat VVA subsidies nou betyds ontvang.
Die afgelope tien jaar was inderdaad gekenmerk deur ‘n vinnig veranderende milieu met talle uitdagings van ‘n kwynende ekonomie, tot die stadige vordering met die daarstelling van ‘n nuwe finansieringsbeleid deur die departement van maatskaplike ontwikkeling.
Met die veranderde behoefte van diensontvangers as gevolg van verskeie faktore en wysigings in toepaslike wetgewing en statutêre vereistes, was die uitdaging ook die versekering dat dienste relevant en volhoubaar moes wees.

Een van Darien se grootste drome wat hierby aangesluit het was die voorkomingsprogramme wat sy geskryf het, sowel as skoolverlaterprogramme wat fokus op lewensvaardighede, ouerskapprogramme en dwelmvoorkomingsprogramme.
In die meer as 40 jaar wat sy in maatskaplike dienste betrokke was, het Darien die waarde geleer van luister, “want dikwels verstaan jy wat jy wil uit wat jy hoor.”

Oor die afgelope tien jaar sê sy dat dit uitdagend, maar vervullend was. “Ek het geleer dat omgee vlerke het. Dit snoer mense saam en is die bron van ware gemeenskap – mense wat saamstaan om die wêreld ‘n beter plek te maak. Die wonder van omgee is dat die klein dade van hier en nou op eie stoom na ander uitkring.” En daarom is Darien te midde van die ernstige ekonomiese uitdagings van die Covid-19 pandemie, positief oor die taak wat welsynsdienste het om te verrig.
“Die moeilikste tye gee die grootste geleenthede. Ons sal baie kreatief moet wees met ons dienste….die wêreld se nood aan mense wat omgee was nog nooit so groot nie.”

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button