NewsNews

Meyerton-atlete lê Twee Oseane-wedloop in hul tuine af

Meyerton-atlete lê Twee Oseane-wedloop in hul tuine af

MEYERTON. – Met vanjaar se Twee Oseane-ultramarathon wat weens die koronavirus afgestel is moes atlete van die Meyerton Atletiekklub die wedloop maar in hul tuine en op trapmeule in hul huise aflê.

Die Twee Oseane-wedloop sou op Saterdag 11 April plaasgevind maar is weens die wêreldwye koronavirus pandemie en landwye staat van inperking afgestel.

Dit het egter nie atlete van Meyerton gekeer om afsonderlik die afstand by hul wonings af lê nie.

Volgens Freddie Peters, ‘n lid van die Meyerton Atletiekklub, het heelwat van die klub se atlete besluit om die halfmarathon-afstand (21.1km) af te lê, terwyl daar ’n handjie vol atlete was wat wel kans gesien het vir die volle ultramarathon. Die afstand van vanjaar se ultramarathon sou 58km gewees het.

Op ’n kleinhoewe in Walkerville het Danie Bosman, ’n atleet wat gekies het om die uitmergelende ultramarathon aan te pak, heen en weer gehardloop op ’n 600m roete wat hy vir homself uitgewerk het. By die draaipunt het hy water en ander verversings vir homself neergesit sodat hy nie ontwater nie. “Ek haak ’n pennetjie aan die draad sodat ek tred kan hou met hoeveel laps wat ek voltooi het,” vertel hy. Sy mikpunt was om die 58km in ongeveer ses ure voltooi.

In Golf Park het Roland du Plessis probeer om sy Twee Oseane-ultramarathon so getrou as moontlik aan die ware Jakob te hou. Die meganiese ingenieur het dou voor dag verrigtinge op die gebruiklike wyse afgeskop deur Nkosi Sikelel ‘iAfrika te sing. Hy het ’n roete uitgewerk wat ooreenstem met die wedloopprofiel van die Twee Oseane. Terwyl hy die platter gedeeltes van die roete in sy tuin afgelê het, het hy op sy loopmeul geklim en die helling gestel vir Chapman’s Peak en Constantia Nek se steil bulte. Sy vrou, Anel, en kinders, Jana (9) en Barend (7), het hom deurentyd ondersteun, met die kleinspan wat in ’n stadium Kaapse Klopse langs die roete nageboots het. Só getrou het Roland die wedloop propbeer naboots dat hy Anel gevra het om ’n blikkie geblikte sardientjies oop te maak om die reuke van Houtbaai na te boots. Roland meen die tuis Twee Oseane is heelwat moeiliker as die ware Jakob aangesien hy nie die helling van die afdraandes met sy loopmeul kan simuleer nie.

Op sy erf in Rothdene het Desmond Richardson altesaam 260 keer om sy huis gehardloop deur ‘n roete van 225m oor en oor te doen. Desmond, wat verlede jaar se Twee Oseane in ’n uitstekende tyd van 4 uur en 51 minute kafgedraf het, het laat weet dat hy hierdie jaar die Twee Oseane-wedloop net wou klaarmaak, ongeag die tyd. Die mededingende atleet was wel deeglik bewus daarvan dat hy in kompetisie met sy klubmaats is wat ook op die dag die 58km afgelê het. Hy meen ook dit is heelwat moeiliker om die Twee Oseane-wedloop tuis af te lê.

Sien video’s hier:

https://youtu.be/pNH8K0GekLE

 

 

https://youtu.be/SVcYqxJOpBo

 

https://vaalweekblad.com/59983/meyerton-atlete-le-twee-oseane-wedloop-hul-tuine-af/

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button