News

Tonnelflarde nog ’n terugslag vir roosprojek

Tonnelflarde nog ’n terugslag vir roosprojek

Die begunstigdes van die Parys Flower Project wat sedert 2017 al sukkel om die steierende projek aan die gang te hou, staar nou nóg ’n uitdaging in die gesig. Dit ná swaar reën voor die inperkingsperiode groot skade aan die kweekhuistonnels aangerig het, sê die projek-voorsitter, Florence Malebo.
Ook die versorging van die rose ly skade gedurende die inperkingsperiode, wat vererger word deur die probleme wat daar al vroeër was om die projek te bedryf.
Florence het vandeesweek gesê hulle is bekommerd, en het geen sekerheid oor wat die toekoms vir hulle inhou nie. Hulle weet nie waar hulle fondse gaan kry om die kweekhuise te herstel nie.
Daar is ook nog geen bevestiging vir die moontlikheid of departement landbou dalk geld vir die 2020/21 boekjaar vir die projek sal toewys nie, en is daar tans geen inkomste uit die projek nie met die winter wat voorlê.
Die beskadigde kweekhuise en verwaarloosde terrein is alles behalwe die prentjie van ‘n florerende snyroos-projek wat vir Parys gevisualiseer is toe die Parys Flower Project met sy pragtige Ludwig snyrose drie jaar gelede in twee kweekhuistonnels in Allenbystraat begin is.
Die projek is begin kort na die eerste Free State/Madeira Flower Festival in 2016 toe die Vrystaatse regering R2,2 miljoen vir die projek begroot het.
Die plan was vier tonnels wat naas rose, ook ander blomme sou insluit sodat Parys, soos Bloemfontein, waar ’n soortgelyke projek geloods is, kon voordeel trek uit die blomme-industrie. Van die vier tonnels het net twee gerealiseer.
In 2017 is begin bou en teen Augustus 2017 is vyf vroue (twee van Vredefort en drie van Parys) by die projek betrek. ’n Totaal van 1 000 Ludwig rose van vyf verskillende variëteite is geplant – prentjiemooi wanneer die rose in blom was.
Nou, bykans drie jaar later, lyk dit asof gebrekkige beplanning en bemarking, en die tekort aan finansies steeds die sukses van die projek kelder.
Van die oorspronklike begunstigdes was daar verlede jaar al nie een meer oor nie.
In 2018 het Parysenaars nog geesdriftig die projek ondersteun. So het ’n eienaar van ’n plaaslike kwekery, Rykie Schaller, uit haar eie die vroue gaan wys hoe om die rose te snoei en te versorg, en ook probeer help om van die rose in die dorp te verkoop.
Daar is selfs vrywilligers gekry om te kom help snoei.
Maar sedert die 2018 FS/Madeira Flower Festival werk die koelkamer nie meer nie.
Die boorgatwater maak net tonnel een nat, terwyl geen water by die tweede tonnel uitkom waar die meeste rose is nie. Dié moet met ’n tuinslang natgemaak word, en omdat daar nie voldoende krane is om die hele tonnel nat te lei nie, moet emmers water aangedra word.
Daar’s ook nie kompos of insekdoders nie.
Selfs die hulp wat hulle vroeër van Korrektiewe Dienste gekry het om die terrein netjies te hou, is iets van die verlede.
Florence sê sy en ‘n helper probeer nou in die inperkingsperiode twee keer per week die rose natlei, maar die vraag is of dit wat gedoen word die projek kan red.
Hoewel daar nou na die munisipaliteit en departement landbou gekyk word vir hulp en ondersteuning vir die begunstigdes, is dit steeds belangrik dat die begunstigdes eienaarskap van die projek moet kan neem.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button