News

Tussen die mop en die masker

Dis wat ek geleer het.

Nee kyk – as daar nou een ding is waaroor ek wonder is as die grendeldeure nou oopgaan,  skoolklere nog gaan pas? Want saam met inperking, het die lekker eet gekom aan die stormloop proviant waaraan trollie vir trollie weggelê word.

Met klere koop nou neusie verby, sit jy dalk reeds met die een nommer te klein wintersklere in jou kas, en kinders wat oornag uit hul klerekaste gegroei het. Lees ek ook van mammas met babas oppad en die stryd om babaklere te kry midde van geslote grense en deure.

Jy wonder wanneer skole verligting gaan bring vir vasgekluisterde ouers wat vir drie weke gehok is om kinders uit mekaar se hare te hou.

Ons mis  hardewarewinkels  want huisskoonmaak en DIY is jou voorland. Of jy nou tien duime of ‘n ingebore fobie vir vetterige skottelgoedwater het of te nie.

En dan hoor ek mos daar is matrikulante wat beweer tyd by die boeke is nou min omdat daar so baie gehelp moet word met die huistake. Die flukse bloedjie wil ek nog sien want huistake en Netflix is konstant in kompetisie en kyk maar na die kassiesyfers  en jy sal weet wie wen.

Word daar gevra vir hulp in die huis, vlug elkeen in sy eie kameraanhouding – die werk roep, en wat oorbly is die vetterige skottelgoedwater, die knaende honger-oë en die vuil wasgoed. Seker nooit vantevore was huishulpe so gewaardeer soos juis in hierdie afsondering tot nadenke om tog maar jou seëninge of bederwe van vroeër in die sweet van jou eie aangesig in aanskoue te neem.

Ja dis ‘n tyd vir saamwees, vir dinge doen wat jy nie vroeër voor kans gehad het en, en, en….maar laat ek jou vertel oornag het jou take kleintjies gekry van bossies uittrek, tot vloere was en ‘n dagtaak se werk verrig, en  tussendeur – wat eet ons vanaand.

Ek weet as die grendeldeure oopskuif, het die gimnasiums darem nog ‘n kans dat besigheid mag optel met ingeperkte sentimeters wat ook opgetel het, saam met die rand/dollar stryd, en wasmiddel wat oënskynlik oornag klere  laat krimp van die lockdown sitdown.

Ek weet ons sal ‘n paar nuwe vaardighede geleer het.

Ek weet ons sal geduld leer met mekaar se geite en giere

Ek weet ons sal mekaar dalk meer waardeer.

Ja, ek kyk met nuwe oë na grendelbendes in ‘n huis wat mekaar se ingeperkte laste dra – selfs deur vetterige skottelgoedwater.

En ek wonder oor rylopers wat nog ‘n entjie se saamry vra langs verlate strate. Oor maskers wat halfmas onder kinnebakke hang en  ek dink aan jou woorde daar uit China, Johan, as jy praat oor inperking en sê – lekker was dit nie, maar interessant BAIE.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button