NewsNews

Onderhoud vir minderjarige en afhanklike kinders gedurende inperking

Onderhoud vir minderjarige en afhanklike kinders gedurende inperking

Die Wet op Gesinsgeweld, Wet nr. 116 van 1998, onderskei tussen die verkeie vorme van gesinsgeweld, insluitend ekonomiese mishandeling. Hierdie Wet definieer “ekonomiese mishandeling”, as, “die onredelike weerhouding van ekonomiese of finansiële bronne waarop ‘n klaer regtens geregtig is, of wat die klaer uit noodsaak benodig, met inbegrip van huishoudelike noodsaaklikhede.”
Die belangrikheid van die finansiële bydrae tot versorging van kinders is duidelik uit die feit dat die Wetgewer, nie alleen in die Wet of Gesinsgeweld nie, maar meer spesifiek ook in die Wet op Onderhoud, wet 99 van 1998, hierdie bydrae vereis en reguleer. Die Wet maak natuurlik voorsiening vir optrede in gevalle waar die onderhoudspligtige, ten spyte van sy, (of haar), vermoë om wel by te dra, weier/nalaat om volgens so ‘n onderhoudsbevel by te dra, gevolge waarvan gevangenisstraf nie uitgesluit is nie.
Daar behoort egter, ideaal, nie ‘n onderhoudsbevel nodig te wees om ‘n ouer te verplig om maandeliks onderhoud vir minderjarige/afhanklike kinders te betaal, wie primêr in die ander ouer se sorg is nie.

Kos, mediese versorging, en ‘n dak oor jou kop is van die basiese behoeftes. Ongelukkig hou kinders nie op eet nie, ook nie gedurende die huidige inperking nie. Aan dié wie, sonder ‘n hofbevel, (of in terme van ‘n onderhoudsbevel), getrou maandeliks hul bydrae lewer – bravo!
Dit is geen geheim dat sommige ouers tans geen of ‘n beperkte inkomste verdien nie, en sal ouers van kinders, meer spesifiek die wie nie ‘n gemeenskaplike woning deel, gedurende die inperking nie, onselfsugtig moet koppe bymekaarsit en moontlik kreatief moet wees om te sorg dat daar so ver moontlik in hul kind/ers se basiese behoeftes voorsien word.
Dit is ongelukkig ‘n tendens, en ‘n algemene klagte, dat die onderhoudspligtige vermoed of weet dat die
primêre versorger, nie die onderhoudsgelde, (volgens die bydraer se opinie), wys aanwend vir behoorlike
versorging van die kind/ers nie. Hierdie is egter ‘n muntstuk met twee kante.
Veral gedurende hierdie tyd van inperking, is wedersydse vertroue, eerlikheid, wysheid en samewerking tussen ouers van kinders wie nie ‘n gemeenskaplike woning deel nie, uiters belangrik.

‘n Paar jaar gelede het my man vir ons ‘n kano aangeskaf – ‘n debateerbaar antieke tweesitplek kanoe, wat ongelooflik swaar was en was dit ‘n absolute uitmergeling om die “monster” van ons woning na die strand, (min of meer 500m), en terug te dra – en na die swaardra moes ek natuurlik nog genoeg energie oor hê vir die geroei teen en deur, (soms onderdeur) die golwe, om in die oopwater agter die groot golwe te kon kom. Uitroei, terug strand toe, was ‘n uitdaging op sy eie en uniek in karakter, want omdat jy noodwendig vorentoe kyk, in die rigting waarin jy roei, (rigting strand), sien jy nie altyd ‘n verrassingsgolf wat jou van agter af bekruip nie. Ek het soms met meer sand in my DNA as bloed in my are op die strand uitgeseil soos ‘n verdrinkte meermin (as daar so iets is). Dan moes ek dieselfde monster dubbelsitplek kano help terugdra na ons woning – opdraende!

As ek reg onthou het ek min of meer elke tien tree gesmeek vir ‘n ruskans, kano neersit, asemskep, optel en verder dra.
Ek het egter op ‘n dag, terwyl ek soos ‘n “survivor” aan die kano hang-dra, ‘n paradigmaverskuiwing gedagte gekry – maak geen fout nie.
Die kano was ontsaglik swaar – vir my in elk geval. Volgens my man so 30+kg. Volgens my minstens 80kg!
Hoe dit ook al sy – die gedagte het, (so in die dra), by my opgekom: “As hierdie gewig wat jy nou dra, jou (volwasse) kind was, wie ernstig beseer is, wie se lewe in gevaar is, en die spoed waarteen jy hom by mediese versorging kry, ‘n saak van lewe of dood is … sal jy steeds aandring op ‘n ruskans elke tien treë?” Ek het myself teen my eie gedagtes probeer verdedig en dit op ‘n tekort aan adrenalien met die dra van die kano geblameer.
Wat ek wel besef het, is dat ‘n mens baie meer kan verduur en ”dra” wanneer die konteks dit vereis. As my kind se lewe daarvan sou afhang, sou ek kilometers met hom hardloop, sonder rus.
Ek glo dat die huidige inperking ‘n unieke en ongekende menslikheidskonteks op ons af forseer en glo ek dat my persoonlike voorbeeld van ‘n paradigmaverskuiwing, op ‘n vreemde manier, van toepassing is op hoe ouers hul finansiële bydrae tot onderhoud vir minderjarige kinders behoort te benader en behoort te hanteer gedurende die inperking.
Verdeelde huishoudings skep natuurlik die scenario waar, in plaas van waar slegs een van die twee ouers sou supermark toe gaan vir aankoop van noodsaaklikhede, beide ouers nou sal moet gaan aankope doen – elk vir sy eie huishouding. Indien die ouers van ‘n kind/ers egter positief kreatief te werk gaan, kan selfs die rye by supermarkte aansienlik verkort word.
Ons almal weet wat “basiese benodigdhede” is. Dit sou byvoorbeeld sinmaak dat die primêre versorger, (by wie die kind/ers woon gedurende inperking), via teks of e-pos, (bv. weeklikse WhatsApp, SMS of e-pos), vir die onderhoudspligtige ‘n lysie van benodigdhede stuur, wat die onderhoudspligtige dan kan gaan aankoop.

In dieselfde asem kan die aankoper nie vir sy eie huishouding ‘n skaapboud en die duurste tandepaste koop en verwag sy, (of haar), kind/ers, wie by die ander ouer woon, terselfdertyd tevrede moet wees met net ‘n sak meel en die kleinste bakkie margarien nie. Die aankoper kan natuurlik die betaalstrokies hou as bewys van bydrae tot onderhoud.

Hierdie voorstel kan net werk indien die ouers in dieselfde dorp woon en die spesifieke supermark nie ‘n beperkte hoeveelheid items per persoon toelaat nie. Handewas voor en na aankope en pakkies uitpak is natuurlik ‘n moet. Ons wil ons kinders, (en onsself, want ons kinders het ons nodig), beide voed en gesond hou tydens die inperking. Hierdie is bloot ‘n voorbeeld van hoe ouers van ‘n kind/ers, wie nie ‘n gemeenskaplike huis deel nie, op ‘n kreatiewe manier beide blootstelling kan probeer verminder, en versorging van kinders kan probeer verseker.
Wysheid en volwassenheid is natuurlik die sleutel. As julle as ouers voorheen nie kon saamwerk in die beste belang van die kind/ers nie, is nou ‘n goeie tyd om te begin.
Aankope op hierdie wyse natuurlik net tydens inperking en met die doel om blootstelling en lang supermarkrye te probeer beperk. Onder normale omstandighede kan die onderhoudspligtige nie aandring om persoonlik kruideniersware aan te koop as die hofbevel ‘n spesifieke bedrag stipuleer nie. Om aan te dring op ‘n verslag van hoe elke jota en tittel maandeliks op kruideniersware spandeer word, sou ewe onredelik en absurd wees.
‘n Ander scenario wat bydrae tot onderhoud kan beïnvloed is natuurlik waar een ouer heelwat meer verdien as die ander of waar een, gedurende die inperking, wel ‘n inkomste verdien en die ander een minder of glad nie. As die onderhoudsbevel stipuleer dat die onderhoudspligtige X-bedrag moet betaal, (bereken en gebasseer op beide ouers se onderskeie maandelikse inkomste), maar die ander ouer verdien tydens inperking dalk minder of geen inkomste nie, is daar geen menslike rede waarom die een wie wel verdien, proporsioneel nie meer kan bydra as wat die hofbevel stipuleer nie. Indien die onderhoudspligtige die een is wie steeds ‘n inkomste verdien, is daar geen rede waarom hy, (of sy), nie dieper in sy, (of haar), eie sak kan delf en meer kan bydra as wat die hofbevel stipuleer nie.
Logika dikteer dat ‘n groter maandelikse bydrae tydens inperking nie behoort gesien te word as “vooruitbetaalde” onderhoud, wat na inperking in berekening gebring en van die gewone onderhoud afgetrek behoort te word nie. Dit sou beteken dat die primêre versorger se las na inperking eenvoudig sal voortduur omdat sy, (of hy), dan met minder moet klaarkom as wat die onderhoudsbevel stipuleer.
Weer eens is wysheid en volwassenheid, en wil ek byvoeg, onselfsugtigheid, die sleutel. Solank die beste belang van die kind/ers beide ouers se fokus is en bly, behoort beide te besef dat samewerking kardinaal is vir die kind/ers se behoorlike versorging en welstand gedurende die inperking.

Die vraag of ‘n kind/ers gedurende die inperking van die een ouer se woning na die ander se woning mag gaan, (in die konteks waar beide ouers in dieselfde dorp woon, asook die reg tot fisiese kontak met die kind/ers gedurende die inperking), het reeds vele male in die media opgekom en is daar duidelik gesê dat dit nie toegelaat word nie.
Daar waar die kind/ers op 26 Maart 2020 om middernag was, is waar die kind/ers sal bly gedurende inperking. Die voorstel dat die kind/ers by die onderhoudspligtige gaan eet, sodat die primêre versorger, by wie die kinder/s woon, minder kruideniersware hoef aan te koop, is dus nie ‘n opsie nie.

Indien die onderhoudspligtige gedurende inperking ‘n beperkte of geen inkomste verdien nie, maak dit sake noodwendig ontsaglik moeilik, maar word die primêre versorgers in so geval ten sterkte afgeraai om die onderhoudspligtige ouer teenoor die kind/ers te beswadder – die onderhoudspligtige ouer sal moontlik nie eens bewus wees as die primêre versorger so sou optree nie, maar sal die kind/ers wie dit moet aanhoor, die werklike emosionele slagoffers wees van ‘n “volwassene” se onwyse, neerhalende, heelwaarskynlik onredelike, en ongesensorde uitlatings teenoor die ander ouer.
Terselfdertyd moet ‘n onderhoudspligtige, wie gedurende inperking minder of geen inkomste verdien nie, nie eenvoudig gelate agteroor sit nie, Met behoorlike kommunikasie en koppe bymekaarsit tussen ouers, kan hulle dalk net saam ‘n werkbare oplossing bewerkstellig.
Die mens is inherent ‘n kreatiewe wese – briljante argitektuur, pragtige musiek en selfs selfoontegnologie is ’n konkrete bewys hiervan. Hoekom nie ons kreatiwiteit gebruik waar dit kom by ons kinders se versorging gedurende inperking nie?
Terug op die monster kano – my man het, na vele van my klaagliedere, ‘n kontrepsie met wiele aangeskaf, waarop ons, (ek moet bieg – hy), die kano kon “monteer” en kon strand toe en terug sleep.
Die versorging van ons kinders in die inperkinskonteks vereis ongetwyfeld dat ouers moontlike “onderhoudskontrepsies” bedink, bespreek, en implementeer om die versorging van kinders in gebroke huise te verseker of ten minste te verlig – die gedagte aan honger kinder-ogies behoort voldoende motivering te wees – geen adrenalien nodig nie.

* Monica Drotsky het haar LL.B graad aan Unisa behaal en ge-artikel in Parys waarna sy betrokke geraak het by die Bobbi Bear Kliniek in Amanzimtoti. Sy spesialiseer in Familiereg en is ‘n vennoot van Du Toit Drotsky Attorneys in Parys

Related Articles

Back to top button