News

Sielkundige impak van COVID-19

Sielkundige impak van COVID-19

Mnr Rümando Kok en Prof Pieter Kruger, albei senior kliniese sielkundiges by die Instituut vir Sielkunde en Welstand (ISW) in die Sentrum vir Gesondheid en Menslike Prestasie op die Noordwes-Universiteit se kampus in Potchefstroom, verduidelik dat dit verstaanbaar is dat ’n groot getal mense se angsvlakke verhoog het.

“Hoewel die bedreiging ’n werklikheid is en mense reeds weens die virus dood is, is die sielkundige risiko in hierdie situasie dat ons denkstyle die situasie waarin ons ons bevind beduidend kan vererger.”

Hulle sê dat die internasionale navorsingsgemeenskap voorspel dat ’n geraamde 95% van mense wat die virus opdoen in werklikheid slegs geringe tot matige simptome sal hê, maar dat die sielkundige uitwerking van die huidige pandemie trouens ’n baie erge impak op die geestesgesondheid kan hê. “Dit behels nie soseer die oorskatting van die kans dat jy die virus kan opdoen nie , maar eerder ons onderskatting van ons vermoë om dit te hanteer.”

Die instellings om die virus te beperk (sosiale distansiëring en selfs kwarantyn) is onnatuurlike en skielike gedwonge veranderings in gedrag en skep geestesgesondheidsuitdagings.”

Hoe hanteer ons die gebrek aan roetine, potensiële verveling, die feit dat ons geografies tot ’n beperkte gebied ingehok word, en die onvermoë om van aangesig tot aangesig by sekere ondersteuningsgroepe betrokke te wees?

“Mense kan nie aan spansport deelneem soos in die verlede, gim toe gaan of vryelik na kroeë, flieks en restaurante gaan om verligting van hulle daaglikse stresfaktore te kry nie. Ons word ook baie naby aan ons onmiddellike gesin of huismaats ingeperk, en dit kan beduidende stremming op verhoudings plaas. Hoewel talle mense die vermoë het om van die huis af te werk, sal telekommunikasie frustrasie en uitdagings veroorsaak, soos miskommunikasie, probleme met opvangs en die gesondheidsuitdagings wat veroorsaak word deur die feit dat jy heeldag voor ’n rekenaar sit.”

“Ons kan nie die virus beheer nie en ook nie die impak wat dit op baie mense gaan hê nie. Wat ons egter wel kan beheer, is hoe ons op die huidige situasie reageer. Ons kan slagoffers wees, of ons kan die beste van die situasie maak.”

Dit is nie ’n tyd om paniekerig te raak of onnodige vrees te skep nie, maar ons moet ook nie onbewus bly van die bedreiging nie. Dit is ’n tyd om saam te staan, versigtig te wees en na onsself en ander om te sien.”

Praktiese voorstelle om die angs te hanteer, sluit in:

1. Hou ’n plan gereed. Wees meer proaktief: beoefen duidelike gesondheidsgedrag, was jou hande, vermy plekke met baie mense en volg die regering se inperkingsinstruksies – maar moenie heeldag in die spreekwoordelike wipstoel sit nie.

2. Fokus op dinge wat saak maak: Bestee tyd stokperdjies waarvoor jy selde tyd het (binne perke), bou verhoudings, lees meer en kry genoeg rus, ens. Daar is talle belangrike dinge wat ons nog in hierdie tyd kan doen. Fokus op die dinge wat die meeste in jou lewe saak maak!

3. Behou perspektief: Hoewel die bedreiging ’n werklikheid is, moenie die menslike liggaam se vermoë om ’n virus te beveg, onderskat nie – veral as jy gesond is en geen onderliggende gesondheidsprobleme het nie. Ons moet deur die vroeë maande sterk staan, aangesien mense mettertyd hulle natuurlike immuniteit sal begin opbou. Wees intussen verstandig, maar moenie ophou leef nie.

 

Related Articles

Back to top button