BlogsOpinions

Vyf persoonlikhede, drie weke, een huis

Vyf persoonlikhede, drie weke, een huis

Gazette se susterskoerant, Vaalweekblad, het gebel om te hoor hoe die vyf verskillende persoonlikhede die huis-blyery ervaar. Quentin werk nog nadat hy sy fabriek omgeswaai het van latex vervaardiging na handreinigings toe. Verder werk hy aan toekomsplanne en gebeurlikheidsplanne om te verseker dat hy, sy gesin en 60 werknemers sal kan oorleef.

 

Skoolwerk word nie agterweë gelaat nie. Hierdie area in die huis word Tuisskool Hoofkwartiere genoem.

In die aande is hy die een wat die vloere was. Die ander huiswerk behartig die res van die gesin. Annalize en hul dogters, Zandri (17), Anli (12) en Lize (8) het Mary Poppins se manier van werk ernstig opgeneem. In die oorspronklike film maak Mary Poppins en die kinders die speelkamer skoon deur ‘n Spoon full of Sugar te sing. Annalize-hulle het vir hul ‘n speellys opgestel met ‘n verskeidenheid musiek op. Elke tweede dag word die musiek gespeel en word daar vir 75 min baie hard huis skoon gemaak. Vir die res van die tyd geld die reël, “jy maak skoon waar jy mors.’

Die drie oefen in die tuin.

Annalize sê die kinders hanteer die inperkingstydperk verskillend. “Die eerste drie dae het hulle nog baie gestry en gekibbel oor alles, maar toe het hulle rustig geraak. Nou is hulle baie op mekaar aangewese.” Zandri is in Gr. 11 en sy fokus op haar skoolwerk. Die skool help baie en sy kry wiskundeklasse via Zoom. Sy help ook haar sussies met hulle skoolwerk. Laataand speel sy xbox speletjies wat beteken sy word nou later wakker as die res van die huis.

Middelkind Anli is die ekstrovert met die hope energie waarvan sy elke dag ontslae moet raak. Lize se atletiek afrigter het gelukkig vir hulle ‘n streng oefenprogram gestuur en dit help om van die ekstra energie af te werk. Anli is ook die kreatiewe een. In haar kamer is ‘n lys met alles wat sy nog in hierdie tydperk wil doen. So het sy al kaneelkersies gemaak wat sy in die huis brand nadat sy gelees het dit hou virusse weg.

Vir haar ouers se huweliksherdenking was sy die een wat ‘n spesiale aand geprakseer het, kompleet met ‘n drie-gang maaltyd, kerse en mooi musiek. Anli het ook ‘n passie vir bak en brou in die kombuis. “Sy is die maerste van ons almal, maar sy geniet dit om die res van ons vet te voer” lag Annalize. Die afgelope week het sy soetkoekies gebak en versier, fudge gemaak en ‘n peppermintcrisp-tert opgetower. Na wat verneem word is haar volgende projek ‘n sjokoladekoek met ‘n koekie in die middel…

 

Lize voer haar eie produksie, Die Ma wat moeg is, op

Lize die jongste in die huis en sy hou daarvan om die ander te vermaak deur haar eie opvoerings te hou. Sondagoggend het sy, Die Ma wat moeg is, opgevoer. Sy het haar verskyning in ‘n te klein japon gemaak met water in ‘n wyn glas en dramaties verklaar hoe “die kinders in hierdie huis haar moeg maak”.

Annalize sê hulle is gelukkig dat almal hulself kan besig hou. Sy self is gewoond daaraan om van die huis af te werk, en sê dis eintlik lekker om nie so van een plek na die ander te moet jaag elke dag nie. “Dit help ook om te weet my skoonouers is gesond en veilig in Palms aftreeoord. Ons het hulle voor die lockdown geleer hoe om video oproepe te maak, so ons bel en gesels baie. My ma is op haar eie, maar ons gesels ook deur video oproepe. Hierdie tegnologie is ‘n bestiering.”

Die Van Heerdens koester hul gesinstyd in die aande. Dan brand die kaggelvuurtjie en daar word speletjies soos Pictionary gespeel. Hulle luister ook musiek saam. “Dis lekker om te sien hoe ons kinders dinge saam doen. Hulle hou tafeltennistoernooie en nou die dag het die drie saamgewerk om vir ons ‘n pastagereg te maak. Ek dink daar was drie eetlepels knoffel in! Daardie dag was ons baie bly ons kon nie met die buitewêreld direk praat nie,” lag Annalize.

Vir ‘n oomblik raak sy ernstig. “Daar is so baie mense wat nie het wat ons het nie. Ons is geseënd met ‘n erf, ‘n huis en kos. Niemand weet wat gaan gebeur nie. Ek gebruik die tyd om op my gesin te fokus. Ons is tevrede.”

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button