NewsNews

Isolasie inspirasie: Tyd vir brood bak

Vandag is die golwe groot en ons kan maklik sink. Bly gefokus en bly stap.

Dink bietjie. Vir die perfekte brood is jou eerste stap om al jou bestanddele bymekaar te sit.
Elke bestanddeel het sy plek en sy doel, en geen brood kan ‘n behoorlike brood wees sonder gis nie.
Die water moet nie té warm of té koud wees nie, anders gaan jou gis dood. Jy moet dit byvoeg en dan moet jy die brood knie tot die deeg net reg is. Ek kan dit al ruik. Ruik soos ouma se kombuis.
Dan kom die wag en die wag tot die brood mooi gerys het. Die oond staan al reg vir hierdie brood.
Van ‘n gemaklike knus hitte onder die doek tot binne in die vreeslike hitte van die oond. Daar moet die brood bly tot die tyd reg is vir hom om uit te kom. Dan net voor hy té bruin raak en brand, land hy op die tafel – perfek.
Maar nou moet jy nog ‘n bietjie wag voor jy kan begin om hom te geniet.

Wat kan lekkerder wees as ‘n warm sny brood met ‘n koppie boeretroos saam met jou geliefdes om die kombuistafel.
Dis presies hoe die lewe is. Ons berei voor en dan wag ons. Dan die proses van hitte wat noodsaaklik is om die bakproses te voltooi om uiteindelik by die eindresultaat uit te kom.
Dit is ‘n proses van vorm en sterk word sodat ons vir mekaar kan kos gee. In hierdie tye van onsekerheid het elkeen van ons se hitte in ons lewens vir iemand kos. Dis dalk wat hy/sy nodig het om deur vandag te kom.
Ondersteun mekaar, bemoedig mekaar en vertrou saam dat die tyd in die oond wel sal verby gaan.
Verlede week het ons gesê, dis tyd om uit die boot te klim en op die water te stap.

Vandag is die golwe groot en ons kan maklik sink. Bly gefokus en bly stap.

Ouma se Boerbrood
(Geleen by Boerekos.com)
1 kg koekmeel
1 pakkie droë gis
30 ml Olie
30 ml Asyn
20 ml Sout
10 ml Suiker
600 ml lou water
Metode
Meng al die droë bestanddele saam.
Meng die water met die olie en asyn.
Meng nou die water en die meel.
Laat rys vir 2-3 ure
Verdeel in 2 broodpanne. (Laat rys vir nog ‘n halfuur)
Bak teen 180 grade C vir 1 uur.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button