NewsNews

Die siel van ‘n kunstenaar

Wanneer jy ‘n onderhoud via WhatsApp stemboodskappe moet voer, is dit moeilik om iemand te peil.

Wanneer jy ‘n onderhoud via WhatsApp stemboodskappe moet voer, is dit moeilik om iemand te peil.
Nie so met Erika Botha, plaaslike musikant, nie. Uit die eerste stemboodskap is dit duidelik dat sy die siel van ‘n kunstenaar het. Die boorling van Polokwane wat vanjaar haar honneurs in korporatiewe kommunikasie aan die NWU Potchefstroomkampus voltooi, kan gereeld saam met haar ‘band’, The Dudes, by Texas Rock Bar gesien word. Sy speel ook saam met die ‘band’, Where’s Waldo.
Die rustige kunssinnige manier wat sy met jou gesels kan mens maklik laat dink dat sy ook ‘n rustiger tipe van musiek maak.
Dit is waar selfs hierdie skrywer die fout gemaak het.
Sy het genoeg ‘edge’ om soos Karen Zoid en Marianne Faithful te ruk en rol. Haar nuutste enkelsnit, “Whiskey” wat verlede week vrygestel is, getuig van die rou ruk en rol wat net onder die oppervlakte borrel.

Daar pomp petrol in haar are en haar musiek is die vuur. Die kombinasie is die ontploffing wat in die enkelsnit “Whiskey” uitgebeeld word.

Erika is al van kleins af aangetrokke tot musiek.
“Ek sou altyd my ma se sonbrille en ‘n tennisrakket gryp om Afrikaners is plesierig’ op die trampolien te sing. So ek het nog altyd ‘n passie vir musiek gehad,” vertel sy. Dit het nie sonder harde werk gepaard gegaan nie. As ‘n tiener het Erika lang ure op haar kitaar geoefen voordat sy liedjieskryf ontdek het.
“Ek het ingeskryf vir die ATKV Crescendo, waar ek ‘n finalis was. Dit was ‘n ‘super cool journey’ om deur te gaan omdat ons ‘mentors’ soos Bouwer Bosch, Danie du Toit, Deon Meiring, Anna Davel, Pedro Kruger en Hemelbesem regtig ‘super cool mentors’ was wat ons gehad het,” vertel sy oor haar ervaring.
“Whiskey” is haar eerste enkelsnit wat sy op haar eie vrygestel het, maar volgens Erika is daar nog baie liedjies in die pyplyn.
“Ek wil mense inspireer met my musiek, ek weet wat musiek in my lewe beteken het. Dit was nog altyd my ontsnapping van die besige lewe af.” As ek my kitaar optel, dan voel dit asof ek die ‘reset’ knoppie gedruk het,” skerts sy.
Erika is die personifikasie van die moderne musikant met haar voete nog ferm op die grond. Haar fokus is op enkelsnitte wat later as ‘n album bymekaar gebring sal word.
“Ek dink regtig enkelsnitte is in vandag se tyd die manier om te gaan omdat dit so maklik is vir almal om in die hande te kry. Elke liedjie vertel ‘n klein storie. Omdat dit nie my brood en botter is nie is daar nie baie druk op my nie. Ek maak op die oomblik musiek omdat dit vir my pret en my passie is,” vertel sy.
Alhoewel dit ‘n groot droom van haar is om ‘n loopbaan uit musiek te maak, is sy ook realisties.
“As dinge vir my verander en ek kan geld maak om van te lewe, sal ek dit doen. Anders sal ek maar in die week werk en naweke ‘n musikant wees,” verduidelik sy.
Die nasionale inperking het so ‘n bietjie ‘n stokkie voor haar planne gesteek, maar sy gebruik nou hierdie tyd om nog liedjies te skryf en musiek te maak. “Dit hang alles af hoe lank hierdie ‘lockdown’ aangaan, maar ek beplan om vroeg in Mei weer ‘n optrede by Texas te doen,” sluit sy af.
Erika se enkelsnit is aanlyn te koop en kan ook aanlyn geluister word. Mense wat belangstel om te sien waarmee sy besig is, kan haar op Facebook, Erika Botha en Instagram @erikabotha99 volg.

Related Articles

Back to top button