News

Vaal-egpaar vertel van fratsongeluk en besoek aan ongevalle tydens inperking

Vaal-egpaar vertel van fratsongeluk en besoek aan ongevalle tydens inperking

Elsje Vermeulen, Vaalweekblad berig

Shaunn, ‘n IT-tegnikus en Melina-Lee ‘n onderwyseres (wat tans swanger is met hul eersteling), was Saterdag by hul woning bedrywig as wyse om hulself besig te hou tydens die inperking.

Shaunn het besluit om die motorhuis reg te pak en het in die proses ‘n stukkende glasblad, wat hy wou uitgooi, regop neergesit. Nadat die motorhuis skoon was, het Shaunn omstreeks 17:00 van die goedere begin terug dra in die motorhuis. In die proses het hy per ongeluk teen die stukkende gedeelte van die glasblad vasgeloop. Sy been is diep oopgesny en hulle het besef dat hy behandeling sou moes kry.

“Ons was nie seker wat ons te doen staan ten opsigte van die inperking nie. Ek het eers ‘n paar mense geskakel om advies te kry voordat ons besluit het om te ry,” vertel Melina-Lee.

Shaunn se besering was egter van so aard dat sodra hy sy been op die vloer gesit het, die wond weer erg begin bloei het. “Ons het toe maar albei ons maskers en handskoene aangesit en klinkiek toe gery. Ons was baie bekommerd dat ons moeilikheid by ‘n padblokkade sou kry, maar het toe gelukkig nie.”

Die egpaar is eers Vereeniging Mediclinic toe, maar omdat hul mediesefonds nie behandeling daar dek nie, is hulle aangeraai om deur te ry na Vanderbijlpark Mediclinic wat glo wel deur hul fonds gedek word. Hulle het omstreeks 18:00 daar opgedaag.

“By Vereeniging Mediclinic het ek saam met Shaunn ingegaan en daar is vir ons gevra of ons hoes of moontlik siek is. Ons moes ons hande dadelik met ‘n ontsmettingsmiddel was.” By Vanderbijlpark Mediclinic was daar egter strenger maatreëls en is Melina-Lee dadelik by noodgevalle uitgejaag.

“Terwyl Shaunn behandel is het ek maar die hele tyd buite in die motor gewag. Dit was nie lekker om nie te weet wat aangaan nie,” vertel Melina-Lee. Omstreeks 20:00 was Shaunn klaar behandel en kon hulle huistoe gaan.

“Daar was nie enige mense by noodgevalle wat gehelp moes word nie. Ek  moes alleen in ‘n kamer vir ‘n dokter wag. Ek het later redelik onrustig geraak dat mens so lank moes wag. Ek het begin dink ek moet maar huistoe en self die sny met vislyn gaan toewerk,” vertel Shaunn.

Maar na die hele voorval gaan dit darem nou goed met Shaun. Hy het vier steke gekry en die wond is goed toegewerk. Die sny was ook  baie goed bedek met verbande en pleisters. Hy het ook ‘n klem-in-die-kaak-inspuiting gekry.

Daar is briewe aan hulle gegee as bewys dat hulle wel by die kliniek was vir ‘n noodgeval en dat hulle op 7 April sal moet terug sodat die steke verwyder kan word.

“Ek was baie bekommerd oor my man en het by die padblokkade gevoel dat dit tyd mors. As dit ‘n baie ernstige besering is, is daar nie tyd vir verduidelikings by padblokkades nie. Daar was boonop ‘n aantal vragmotors voor ons wat alles opgehou het,” vertel Melina-Lee. Die vragmotors is gelukkig afgetrek en die Strydoms kon verder ry sonder dat enigiemand hul ondervra het.

“Dit was beslis ‘n senutergende ondervinding vir ons. As ons enige raad kan gee en hoe ons persoonlik voel is dit dat ons vir eerstehulpklasse gaan inskryf sodat dit moontlik is. Sodoende sal ons voortaan beter gerat en toegerus wees om sulke beserings te hanteer,” sluit die Strydoms af.

https://vaalweekblad.com/59202/vaal-egpaar-vertel-van-fratsongeluk-en-besoek-aan-ongevalle-tydens-inperking/

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button