NewsNews

Twee dapper vroue vang baba op voorstoep van gastehuis

“Ek het al baie lammetjies op die plaas gevang, maar ‘n baba wat gebore word, is ‘n ander storie”, sê Ciciel Ungerer.

“Ek het al baie lammetjies op die plaas gevang, maar ‘n baba wat gebore word, is ‘n ander storie”, sê Ciciel Ungerer, die mede-eienaar van Rooshoek Gastehuis wat Maandag, 16 Maart moes bontstaan toe ‘n ma wat verby haar gastehuis geloop het, skielik in kraam gaan.

Patrick Molemoeng, die tuinwerker van Rooshoek, was buite in die tuin besig toe hy sien hoe ‘n vrou in Beyers Naudérylaan stap en kort-kort stilstaan. Sy het vooroor gebuk, gekreun en haar maag vasgehou. Patrick het een van die skoonmakers, Veronika Gorewang, geroep om saam met hom ondersoek in te stel. Dit was duidelik dat sy in kraam was en hulle het haar deur die voorhekkie tot op die stoep van die gastehuis gehelp.

“Dinge het baie vining gebeur” vertel Ciciel. “Ek het vir een van die kelners gevra hulle moet gaan hoor wie van die gaste by die teetuin het mediese opleiding.”

Gelukkig was Nicolette Lottering een van die gaste wat die middag saam met haar seun ietsie by die gastehuis gaan drink het daar om te help. Sy is ‘n gekwalifiseerde verpleegkundige wat gesien het iets is nie pluis nie toe mense in alle rigtings begin rondgeskarrel. Nicolette het haar dadelik aangemeld toe die kelnerin vra wie mediese opleiding het.

“Ek was maar benoud toe die mense sê daar is ‘n vrou wat besig is om te kraam, want ek is ‘n suster by Multicare, ‘n psigiatriese hospitaal, in Potchefstroom en ek het omtrent 15 jaar gelede ‘n baba gevang. Gelukkig is was dit soos fietsry, want alles het weer na my toe teruggekom”, skerts Nicolette Lottering wat na die tyd gemaklik oor die voorval praat.

Die werkers het Nicolette na die voorstoep van die gastehuis geneem. Daar het sy Ceciel gehelp om die vrou met komberse gemaklik te maak. “Daar was nie eens tyd om haar in die huis te bring nie,” sê Ceciel.

“Die mamma het kort-kort opgestaan en toe ons weer sien is die klein baba in haar denim se broekspyp gebore”, vertel Nicolette.

Sy het tou en ‘n skêr vir Nicolette gegee wat toe die klein babadogtertjie se naelstring afgebind en gesny het. “Met al die ontsmettingsmiddels in die omtrek, danksy die Koronavirus, was dit maklik om alles vining te ontsmet”, sê Ceciel glimlaggend.

“Die babatjie was pienk en volmaak met al haar vingertjies en toontjies. Sy was eers stil, maar het later begin huil en klein suiggeluidjies gemaak. Ek is so bly alles het goed afgeloop, want daar is so baie dinge wat kon skeefloop”, sê Nicolette.

Volgens Ceciel was die ma in skok en het sy baie gebewe. ‘n Ambulans van ER24, het haar na Potchefstroom Hospitaal geneem waar die ma en baba dadelik opgeneem is.

Nicolette sê die baba is omtrent ‘n maand te vroeg gebore. Sy het na die tyd vir die mamma in die hospitaal gekuier en het vasgestel dat dit haar derde baba was. Die ma was egter nie bereid om met die Herald te praat nie.

Die babadogtertjie was vyf dae in die intensiewe sorgeenheid voordat sy Saterdag, 21 Maart na die prematuur-eenheid van die hospitaal oorgeskuif is. Sy sterk steeds in die prematuur-eenheid aan.

Related Articles

Back to top button