LetterOpinions

Raad oor isolasie vanuit China

Raad oor isolasie vanuit China

Dis nou amper twee maande van isolasie vir my hier in China en dit vat nogal baie om al jou varkies bymekaar te hou. Dinge in China sal seker oor ‘n maand begin normaliseer, maar vir die res van die wêreld (ook in SA) begin die nagmerrie nou eers.
Ek weet dis moeilik om jouself in isolasie of kwarantyn voor te stel, veral met blou lug en sonskyn, maar wanneer dit gebeur en dis koud, en daardie eerste tekens van griep is oral om jou, tref die realiteit jou.
Isolasie is rof. Dit voel soos huisarres. Maar dis nodig en dis wat jou, jou geliefdes en ander se geliefdes gesond sal hou. Nou is nie die tyd om selfsugtig te wees en teen die stroom te swem nie. Almal MOET saamwerk – daar is geen ander manier nie.
Hier is my raad om jou voor te berei vir isolasie:
1. Maak vrede met die realiteit. Maak solank ‘n lys van goed in en om die huis wat gedoen moet word sodat jy besig kan bly. Koop solank daardie boek wat jy wil lees, ens. Maak seker jy het ‘n aksieplan as jy in kwarantyn weg van jou gesin af moet wees: waarheen gaan jy/hulle?
2. Dwing jouself elke dag om op te staan, jou bed op te maak en gewone klere aan te trek. Stel doelwitte vir die dag en hou daarby. Maak seker jy maak ‘n plan om oefening ook te kry.
3. Dis nie die einde van die wêreld nie, so jy hoef nie al die toiletpapier in Spar te koop nie. MAAR kwarantyn beïnvloed aflewerings, ens. Dus: om veilig te wees, beplan vir twee maande sonder om elke dag supermark toe te gaan. Higiëniese produkte is belangrik en ook loadshedding dinge soos kerse. Kry ‘n masker of twee vir wanneer jy wel moet uitgaan, maar probeer om nie uit te gaan nie.
4. Wat kos betref: prep meals. Kook nou ekstra en vries ekstra porsies. Sop werk goed (vries in plat sakkies om plek te spaar) en brood, kaas, gaar groente en vleis vries ook goed. Maak casseroles, maar vries dit in porsies. Sorg vir genoeg hout/kole as jy baie braai. Onthou hondekos, katkos, ens.
5. As jy moontlik van die huis af sal moet werk, sorg dat jou internetspoed vinnig genoeg is. Oorweeg ‘n upgrade vir ‘n maand of twee. Berei ‘n plek in jou huis voor wat as jou ‘kantoor’ of werkspasie kan dien, weg van die TV ens. Om produktief te wees is moeilik as alles eentonig is.
6. Onthou dat nie alle vorme van siektes die koronavirus is nie (ek het gewone griep gehad in dié tyd en was vrek siek). Sorg dat daar genoeg Corenza en ACC 200, Sinumax, maagmedisyne, ens. in die huis is. Maak seker jy het twee maande se chroniese medikasie.
7. As jy kinders het, sorg vir genoeg doeke, melk ens. Vir ouer kinders, werk aan ‘n plan vir ‘n roetine met aktiwiteite en goed in en om die huis om te doen, want om net voor die TV te lê is te maklik. Moedig jou kinders aan om kreatief te wees met hul tyd.
8. Bel jou mediese fonds en maak seker wat die prosedure is vir wanneer jy vermoed iemand in jou gesin het dalk die virus. Watter hospitale kan jy besoek, wie betaal vir die toets, ens. Was jou hande en moenie aan jou gesig vat nie!
9. Bly ingelig, maar bly weg van te veel sosiale media en koerante. Dis rerig een van die goed wat my onder kry. Daar is te veel doom en gloom inligting daar buite en as jy vasgekeer is, maak dit amok in jou kop.
10. Seker die belangrikste: isolasie is ‘n rare geleentheid om tyd saam te spandeer as ‘n familie. As jy bevoorreg genoeg is om ‘n gesin te hê, waardeer hierdie ekstra tyd saam. En as jy alleen is…dis ok…jy gaan ok wees. Sterkte daardie kant en onthou asb. dat spyt te laat kom. Ons het geen waarskuwing dié kant gehad nie en ja, dit was deksels moeilik sover.
* NS: daar is baie mense wat nie so bevoorreg is soos jy wat wel werk het, ens. As jy kan, koop ekstra blikkies kos ens. en vind uit waarheen jy dit kan neem vir wanneer dinge moeilik raak.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button