Chaos soos oproeriges by munisipale geboue betoog
Chaos soos oproeriges by munisipale geboue betoog
Chaos het vanoggend uitgebreek met ‘n oproerige skare wat by die hoofgebou van die J.B Marks Munisipaliteit in Wolmaransstraat betoog het. Die palisade-omheiding is omgestoot, kantore se vensters is stukkend gegooi, asblikke is omgegooi en vuur is by die ingang gemaak. Taxi-bestuurders het Wolmaransstraat en Nelson Mandelaweg afgesper en vuur in die straat gemaak.
Inwoners van uitbreiding 6 en 12 betoog oor dienslewering en eis dat die munispale bestuurder en die burgemeester moet bedank. “Daar is geen kommunikasie tussen die stadsraad en die gemeenskap nie. Die raadslede verryk hulleself en misbruik die belastingbetaler se geld, terwyl ons inwoners moet kripeer! Kontrakteurs word aangewys en voltooi nie hulle werk nie. Uitbreiding 6 sit al vir jare sonder toilette,” sê Pappas Khwaza kwaad.
Die polisie en sekuriteitsdienste was op die toneel om te keer dat die betogers nie verder skade aan die omliggende besighede aanrig nie.
Verkeer van en na die N12 wat deur die stad loop is deur die betoging beinvloed.
Alle vergaderings by die munisipale gebou was Donderdag gekanselleer.





