News

NALATENSKAP VIR DIE TOEKOMS VAN MUSIEK

    Die nalatenskap van musiek vir die toekoms:Dit is die fassinerende tema van die nasionale konferensie van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Musiekonderwysers (SAVMO) wat van 19 tot 21 Maart by die konservatorium in Potchefstroom plaasvind.   Vir die musici van die Vrystaat en Noordwes is dit ‘n opwindende gebeurtenis om na uit te sien. …

 

 

Die nalatenskap van musiek vir die toekoms:Dit is die fassinerende tema van die nasionale konferensie van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Musiekonderwysers (SAVMO) wat van 19 tot 21 Maart by die konservatorium in Potchefstroom plaasvind.

 

Vir die musici van die Vrystaat en Noordwes is dit ‘n opwindende gebeurtenis om na uit te sien. Die laaste keer wat ‘n konferensie in dié geweste gehou is, was in 1988 in Bloemfontein onder leiding van Japie Human as president en gasheer. In 1975 het Gerhard Koornhof die konferensie in die einste Potchefstroom aangebied.Vanjaar is Erna Rademan die gasheer en sy beplan ‘n program wat musici gaan uitdaag en inspireer om oor ‘n verskeidenheid van onderwerpe te besin, om nuut oor die toekoms van musiek te dink en die genot van musiekmaaksaam te ervaar.

 

Die konferensie begin op Donderdag 19 Maartmet die Algemene Jaarvergadering om 11:00. Donderdagaand gaan konferensiegangers en die publiek vermaak word met ‘n sprankelende galakonsert deur briljante, jong kunstenaars. Katya Bessarabov gaan haar staal wys op die klavier en Carli D’Alebout sal die gehoor na hul asems laat snak met haar vioolspel. Yvonne-Marie Brand gaan fanfares laat opklink op die trompet en Joie de Vivre, wat met soveel sukses by Aardklop opgetree het, gaan ons weer bekoor. Dié groep bestaan uit Catrien Mulder-Wentink, André Oosthuizen en Liesl van die Merwe. Die konsert is oop vir die publiek @R100 pp.

 

Die Vrydagprogram is volgepak van vroegoggend tot laataand. Die strykersprogram wat reeds opslae gemaak het in die Vrystaat, die Mangaung Strings Programme, bring ‘n bus vol kinders uit Vredefort, Parys en Bloemfontein om vir ons te wys waar die toekoms van musiek lê. Suzuki Suid-Afrika sluit by hulle aan en stel die gehoor aan hul uiters suksesvolle program en metode voor. Maar nog is dit het einde niet! Die Johannesburg Music Initiativeonder leiding van Elsabé Laubscher kom wys vir die kinders hoe mens musiek maak as jy mooi groot is met hul uiters gewilde “Hip Hop through the Orchestra”.

 

Daarna volg die heel lekkerste deel van die program: Erna gaan elke asem in die gehoor en op die verhoog laat saamspeel en/of -sing aan Peter McLea se “flash mob”-verwerking van Dvorak se Nuwe Wêreld Simfonie. Vir hierdie deel van die program sluit lede van die Noordwes Jeugorkes en Impromptu-orkes by ons aan. Bring asseblief jou instrument saam, want dit gaan hope pret wees! Piet Koornhof sluit die oggendsessie af met ‘n lesing oor oefentegnieke vir strykers.

 

Die Vrydagmiddagsessie bestaan uit ‘n potpourri van onderwerpe en kunstenaars: Marius Coetzee van die Odeion vertel vir ons hoe die najaag van uitnemendheid tot sukses lei, Jana Mathee en vriende wys vir ons hoe agt hande op twee klaviere speel, die Noordwes Kinderkoor vermaak ons en daarna bespreek ‘n kundige paneel die geheimenisse van die stem in koorverband. Vervolgens lei Olga Leonard ‘n kreatiewe en lewendige paneel in ‘n bespreking oor ‘n vars kyk na beroepsmoontlikhede in die musiekwêreld van ons tyd. Die uitmuntende sopraan Antoinette Olivier trek die gordyn oop voor die adolessente stem. ‘n Mini-konsert deur twee van die SAVMO se beurswenners, nl. Tesmarie Jansen van Vuuren (viool) en Landi Schaap (klavier), span die kroon op hierdie sessie.

 

Vrydagaand kry 60 mense die reuse voorreg om ‘n deftige soirée in die NWU se kroonjuweel, die geskiedkundige Pretorius Musiekateljee, by te woon. Vir hierdie geleentheid het Santisa Viljoen ‘n wonderlike konsert saamgestelwat met ‘n onthaal gepaard gaan. Die soirée is oop vir die publiek, maar belangstellendes sal moet gou spring, want daar is nog net tien plekke oor @R250 pp.

 

Die konferensie sluit Saterdag op‘n hoë noot af met uitgesoekte kunstenaars wat aan die program deelneem.Jana Mathee lui die dag se aktiwiteite in met ‘n klaviermeestersklas en daarna gee diebegaafdekonsertpianisAnneke Lamont‘n lesing-uitvoering oor die misterie van musieknotasie.Izelle Claassen, ‘n bekwame violis, restauranteienaar en entrepreneur, sluit die program af met ‘n demonstrasie van haar program Kleuterklassiek. Moet dit nie misloop nie – hierdie sessie plaas die spreekwoordelike kersie op die konferensiekoek.

 

Vir registrasie en/of verdere inligting, kontak gerus vir Erna Rademan: 0825651085 / rademanerna@gmail.com.

 

Related Articles

Back to top button