
Ons innige medelye met die familie van die 12-jarige Juan Janse van Rensburg van die plaas Driefontein in die Heilbron-distrik wat Saterdagaand in ‘n fratsongeluk gesterf het toe ‘n plaashek op hom geval het. Hy is op slag dood
Juan, ‘n graad 6 leerling, het vir sy ouers die hek oopgemaak toe die hek op hom geval het, berig Netwerk 24.
Juan was ‘n toegewyde Voortrekker-lid van die Heilbron Voortrekkerkommando, en was besonder lief vir jag.
Willie Engelbrecht, gebiedsleier van die Voortrekkers in die Vrystaat, het in sy boodskap op die Voortrekkers Vrystaat se Facebook-blad gesê dat die gebiedsdagbestuur “die gesin en Voortrekkerfamilie opdra aan ons Hemelse Vader en bid hul krag en vertroosting toe in die moeilike tyd.”
Ook die Hoërskool Heilbron het sy diepe meegevoel met die gesin betuig en gesê dat die “skool in groot hartseer gedompel is met die dood van ‘n gewilde en beminde leerling.”
Juan word naas sy ouers, Jacques en Nadine, ook deur sy ouer sussie, Jané, en familie oorleef.




