
‘n 39-Jarige vrou van Gauteng is die tweede bevestigde geval van die Covid-19 virus in Suid-Afrika.
Volgens dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, hou die jongste geval wat vandag, Saterdag 7 Maart bevestig is, verband met die eerste geval van ‘n 38-jarige man wat vroeër die week in Hilton, KwaZulu Natal, met die virus gediagnoseer is.
Die vrou van Gauteng was saam met die man van KwaZulu Natal deel van ‘n groep van tien mense wat saam na Italië gereis het.
Intussen is ‘n 39-jarige Suid-Afrikaner wat in Daegu in Suid-Korea werk, daar in kwarantyn geplaas nadat bevind is dat hy die virus onder lede het.
Mkhize het Suid-Afrikaners gevra om kalm te bly en dat mense wat deur virus geraak is, se privaatheid gerespekteer moet word.
Daar is die onderneming gegee dat Suid-Afrikaners op hoogte gehou sal word.
Intussen is ook berig dat die 5-verdieping Xinija Express Hotel in Quanzhou in die Chinese Fuijan-provinsie inmekaar gestort het. Die hotel is glo gebruik om mense te huisves wat vermoedelik die korona-virus het, berig Netwerk24. Daar was 70 mense in die gebou. Talle mense is reeds lewend onder die puin uitgehaal berig die South China Morning Post. Reddingswerkers was met die plasing van die berig nog op die toneel.





