News

Held red makker uit gloeiende staal

Held red makker uit gloeiende staal

Hierdie is een van die verhale uit Vaalweekblad se 55 Jaar Herdenkingsboek wat binnekort te koop gaan wees:

 

Die Vaaldriehoek het deur die jare al vele heldeverhale opgelewer. Na ‘n geweldige ontploffing by Yskor se tandem-oond in 1969, waarin verskeie Yskoriane erg beseer is, is mnr. Gert Brits, destyds die werksvoorman, se optrede deur sy kollegas as buitengewoon uitgesonder.
Gert het die dag, verblind deur stoom, rook en vlamme, in die ramp-area ingestorm om ‘n kollega se lewe te probeer red.
Gert was net agter die oond toe die ontploffing plaasgevind het. Hy is deur die skokgolf teen ‘n reling van die platform, sowat 12.2 meter (40 voet) bo die grond, vasgeslinger. Terwyl hy aan die reling vasgeklou het, het ‘n paneel van die oond die reling platgeval. Voor hom het die afgrond gegaap en half verblind deur die stoom en vuurgloed, het hy wild in die lug gegryp en ‘n pyp agter hom beetgekry, waaraan hy homself met byna bomenslike krag tot op die platform teruggetrek het. Sy gesig, nek en bene het ernstige brandwonde opgedoen soos wat gloeiende stukke puin teen hom vasgeskiet het.

Sy regterbeen was veral erg gebrand en daar was gapende wonde aan sy regtervoet. Hy het na veiligheid begin strompel en oor ‘n sagte voorwerp gestruikel. Hy het besef dat dit een van sy kollegas moes wees maar kon in die rook en stoomwalms nie sien wie dit was nie. Die lug was so warm dat hy nie kon asem kry nie en  hy is na buite om ‘n paar keer diep asem te haal voordat hy dadelik weer die vlamme aangedurf het om die beseerde te gaan help.

Terug in die brandende gebou het Gert gesien dit was sy kollega FC Roux wat tussen die brandende puin en stene gelê het. FC se klere was in vlamme en hy was reeds so gebrand dat die vel van sy arms afgestroop is toe Gert hom wou optel. Gert het hom onder die armholtes beetgekry en met hom tussen die puin deur begin retireer en hom buite neergelê. Hy het omgedraai om terug te gaan om na nóg beseerdes te gaan soek. Reddingswerkers het die beseerde Gert egter gekeer om weer in te gaan, hom in ‘n ambulans gelaai en hospitaal toe geneem. Verskeie werkers, van wie nege ernstig, is dié dag beseer. Ses het oorleef maar drie, insluitend FC Roux, het ongelukkig later in die hospitaal gesterf.

Gert het oorleef  maar moes meer as twee maande intensiewe behandeling vir sy brandwonde ontvang, waarvan die littekens nog tot op sy oudag sigbaar was. Hy het omstreeks 1980 as hoof van die warmmetaal- en ontswaelingsaanleg (bekend as die BOF) afgetree en is in 2006, na ‘n vol en geseënde lewe, oorlede.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button