News

China: ‘Ons is veiliger hier as in SA’

Terwyl planne reeds in plek is om 151 Suid-Afrikaners uit Wuhan terug te bring huis toe, is daar ook talle Suid-Afrikaners wat sê dat hulle in China bly, ondanks vrese oor die Covid-19 virus.

“Dit is nog steeds veiliger om hier te wees met die virus, as in Suid-Afrika met die hoë misdaadsyfer.”
So gesels Willem Moisapudi, ‘n oudleerling van Hoërskool Parys wat vir meer as ’n jaar nou in Dongsheng, Ordos is. Willem het sy MBW en NGOS kwalifikasies aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus verwerf.

Hy is een van talle Suid-Afrikaners wat die werksgeleenthede aangryp wat China hul bied om daar Engelse onderrig te gee.
Willem is by ‘n opleidingskool waar hy vir kinders van 3-15 jaar en volwassenes Engelse klasse gee.
En ja, erken hy, daar was ‘n tyd wat hy wou huis toe kom. Wat onsekerheid oor Covid-19 hom ook gedwing het om retrospeksie te doen van sy situasie, maar nee – soos ander Suid-Afrikaners het hy die keuse gemaak om te bly.

Op ‘n vraag oor of Suid-Afrika ’n uitbraak van die virus sal kan hanteer, sê hy dat hy eerlikwaar nie weet of dit dieselfde in Suid-Afrika hanteer sal kan word nie. Hy vertel dat sedert die eerste bevestigde gevalle van Covid-19 bekend geword het, die Chinese regering onmiddellik besluite geneem het, en belangriker nog – mense het hul samewerking gegee. “As jy sonder jou masker op straat beweeg, word jy snaaks aangekyk. Mense is baie bewus hiervan.
“Met die Chinese Nuwe Jaar was alles nog redelik rustig in Dongsheng, maar binne ’n dag het alles letterlik tot stilstand gekom.” Toe die regering opdrag gegee het dat besighede moes sluit, is gehoor gegee. Jy teken aan waar jy beweeg, skanderings word gedoen, almal volg die reëls.
“Niemand het vrae gevra oor waar hul inkomste vandaan gaan kom as besighede sluit nie.”

“Mense hier is kalm oor die situasie. Dit is meer mense met jong kinders en bejaardes wat bekommerd is.” En ja, daar is gereeld vals inligting wat veral op sosiale media versprei word, maar hy’t geleer om staat te maak op meer betroubare mediabronne, en om nie alles te glo wat op groepe versprei word nie. “Ons het toegang tot inligting en kan statistiek sien van hoeveel mense gediagnoseer word, herstel en sterf in verskillende dorpe en stede.”
Baie besighede het intussen weer oopgemaak en het hy toegang tot alles wat hy nodig het. Daar word nie gesukkel om kos te koop nie, maar hy sal bly wees as die gimnasium wat ook gesluit is, weer sy deure oopmaak.

Toe beweging beperk is het hy die tyd omgekry deur na films te kyk, musiek te luister en sy Chinese taalvaardighede op te skerp, want kommunikasie in China bly ‘n uidaging, vertel Willem. Hy begin op 20 Maart weer klas gee, maar tot nou is daar aanlyn klas gegee. Hy mis Suid-Afrikaanse kos, sy vriende en diere die meeste, maar die manier hoe jy in China verwelkom word, die Chinese se vriendelikheid en geld wat nie alles is in hul lewe nie – dit het hom opgeval. “Hoe min hulle ookal verdien – hulle is gelukkig en geniet hul lewe.”

Willem het kontak met nog vier Suid-Afrikaners in Dongsheng. “Al wat ons regtig bekommer is die beperking op beweging en dat jy dalk nie kan huis toe gaan wanneer jy wil nie, maar ons byt vas. Wat moet gebeur, sal gebeur,” sê Willem

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button