NewsNews

Gemeenskap maak baba se eerste gesplete lip operasie moontlik

Gemeenskap maak baba se eerste gesplete lip operasie moontlik

Nadat Juan en Pauline Swartz die diagnose verlede jaar ontvang het dat hul ongebore baba met ‘n gesplete lip gebore sal word, het hul mediese fonds geweier om die onkostes van die operasies te dek.

Die Potchefstroom gemeenskap het toe verlede jaar hul harte en beursies oopgemaak dat die Swartze die onkostes vir hul baba se eerste operasie kon bybring. Vriende en familie het ‘n spesiale gholfdag gehou wat ongeveer R16 000 ingesamel het en ‘n verdere R15 000 het hulle met skenkings ontvang.

Die reeks operasies om ‘n gesplete lip en verhemelte te herstel beloop duisende rande. Die onkoste vir die chirurg alleen was met die afgelope operasie reeds R45 000. Dan moet die kostes van die hospital, narkotiseur en medisyne ook ekstra bygereken word.

Sussie Lerieke (3) met baba Liandrie by die huis. Liandrie het na sy ontslaan is steeds buisvoeding by die huis gekry omdat sy nie met haar mondplaatjie wou suig nie.

Gelukkig het baba Liandrie se eerste operasie verlede week baie goed afgeloop. Sy was maar net vyf maande oud toe sy in die Life Wilgers Hospitaal in Pretoria opgeneem is om haar sagte verhemelte en lip te herstel. Volgende jaar in April moet sy nog ‘n operasie ondergaan om aan haar harde verhemelte te werk en dan weer op nege jaar, wanneer hulle ‘n stukkie heupbeen in haar kakebeen moet oorplant sodat ‘n tand daarin geplant kan word.

Na sewe dae in die hospital sterk Liandrie goed aan, behalwe vir die derde reeks antibiotika wat sy nou moet voltooi weens ‘n kiem wat sy in haar mond opgedoen het. Haar ma Pauline sê sy het dit waarskylik opgedoen omdat sy haar vingertjies die heeltyd in haar mond gesteek het. “Dit is die rede waarom sy nou sulke plastiese moue om haar arms dra wat haar arms reguit hou dat sy nie haar vingers in haar mond steek nie”, sê Pauline.

Sy verduidelik verder dat die delikate operasie nogal baie nasorg verg en met ‘n baba wat pyn het, het sy maar min slaap gekry. Gelukkig het pa Juan ook verlof gekry om Pauline in die hospital by te staan.

“Twee weke voor die operasie moes ons die mondplaatjie verwyder en moes sy ‘n neusstent kry. Na die operasie mag sy glad nie gesuig het nie. Ons moes vir haar melk met ‘n inspuiting of bekertjie voer. Haar mond moet ook drie keer per dag met ‘n antibakteriese spuit uitgespoel word”, vertel ‘n doodmoeë mamma wat weer hierdie week moet terugkeer na haar werk as onderwyseres by ‘n laerskool in Blyvooruitsig.

Pauline vertel dat Liandrie gedurende die tyd in die hospital glad nie babageluidjies gemaak het of gebabbel het nie, maar sy lag darem nou weer lekker as ma, pa en veral sussie, Lerieke met haar speel.

 

Die plastiese moue om Liandrie se arms is spalke wat haar arms reguit hou en keer dat sy nie haar vingers in haar mondjie steek nie

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button