NewsNews

Munisipaliteit se versekering herstel monument

Munisipaliteit se versekering herstel monument

Die monument het in Desember verlede jaar kort voor Versoeningsdag in die slag gebly toe ‘n rooi Volkswagen Tuareg daarin vasgejaag het.

Dié monument, wat dekades gelede opgerig is om die simboliese ossewatrek van ‘n eeu terug in 1938 te herdenk, het skuins voor die poskantoor aan die kant van die groot verkeersirkel naby President Hyper gestaan. Soortgelyke monumente is dieselfde jaar in talle dorpe en stede in die land opgerig.
Verskeie inwoners het die Herald op 11 Februarie in kennis gestel dat werkers begin het om dit te herstel.

Tydens die besoek aan die monument die afgelope week het die Herald egter met die eienaar van die onderneming wat die herstelwerk doen, mnr. Kapi Pitso, gepraat.
Volgens Pitso het die munisipaliteit se versekeringsmaatskappy hulle gekontak om die herstelwerk te doen. Dit word ook deur dié versekeraar betaal.
Hoewel die basis van die monument reeds herstel is, wag Pitso nog op ‘n hyskraan om die boonste deel veilig terug te sit. Omdat ‘n vragmotor met die hyskraan om dié werk te doen, egter te veel ruimte in die parkeerplekke voor die landdroshof in Fochville in beslag sal neem, sal dié werk oor ‘n naweek gedoen moet word.
Indien alles volgens plan verloop, sal al die werk aan die monument teen die einde van die week voltooi wees.

 

https://carletonvilleherald.com/29671/munisipaliteit-se-versekering-herstel-monument/

Related Articles

Back to top button