NewsNews

‘Weet jou ma jy is okay?’ – beraders onthou

Hoërskool Driehoek-brugramp – Een Jaar Huldeblyk

Eerste publikasie op 5 Februarie 2020 in Vaalweekblad se HS Driehoek-huldeblyk

VANDERBIJLPARK. – Vrydagoggend wag almal geduldig dat die Hoërskool Driehoek se saalopening begin. “Dis so rustig vandag. So anders as ‘n
jaar gelede, toe was dit chaos,” sê Riette Storm. Sy kyk op haar horlosie. “Oor ‘n uur. Ja, dit was omtrent die tyd wat dit gebeur het.”
Haar River of Life-spanmaat en mede Driehoekouer, Camille Wucherpfennig knik instemmend. Vir ‘n oomblik weerspieël hul gesigsuitdrukkings die hartseer en skok wat hul ‘n jaar terug ervaar het. Hulle was van die eerstes op die toneel. “Ons het nie geweet wat wag vir ons nie,” onthou Riette.
“Ons span bid elke Vrydagoggend saam. Ons wou net begin, toe my dogter bel. Sy het histeries gehuil. Die brug het vlak voor haar geval. Craig en Vian het alles gelos en dadelik skool toe gejaag. Ons het nog probeer om ‘n paar goed bymekaar te kry en toe is ons agterna,” vertel Camille verder.
“Al ons kantoorpersoneel het ook deurgekom. Daar was so baie kinders wat hulp nodig gehad het. Ek het op ‘n stadium gedink, ons is alleen, hoe gaan ons almal kan help?
“Die volgende oomblik toe kom daar ‘n groep pastore, dominees, beraders en sielkundiges by die deur ingestap. Te midde van al die pyn en chaos was dit vir my so mooi om te sien hoe die Here se mense saamkom. Almal het hul dienste gratis aangebied.”
Riette beaam dit dadelik. “Dit was amazing. Almal het binne oomblikke saamgewerk.”
Hulle onthou ook hoe die kinders, bang en verskrik, oral in groepies gesit en bid het. “Dit was goed om te sien dat ons kinders se eerste toevlug na die Here toe is.”
Vir ‘n wyle kan ek sien albei vroue se gedagtes loop nou ver paaie. “Ons sal altyd die ander skole se hoofde dankbaar bly,” praat Riette eerste. “Hulle het die nuus weerhou van die laerskoolkinders. So is die kleintjies kalm gehou. Baie van hulle het mos maar ouer boeties en sussies in die hoërskool. Dit het ons as ouers die kans gegee om self die nuus met hulle te deel.
“Daardie dag het dit vir my gevoel my arms is nie lank genoeg nie. Daar was so baie kinders om te troos. Hulle het net in mens se arms ingehardloop.
Ek onthou ek het die heeltyd net hul vasgedruk en gevra, ‘weet jou ma jy is okay?’ en ‘het jy al jou ma gebel’” sê Camille.
“Is jul kinders okay nou?” vra ek die onvermydelike. Hulle raak stil. Dink eers bietjie voordat Camille antwoord. “Die kinders het goed gesien waaroor hulle nie praat nie. Hulle het gedink dit was ‘n bom of dat iemand op die skool skiet.
Dis die nadink wat jou vang. Die what ifs? Ons het al ‘n pad gestap met hulle en kan sien dat genesing begin plaasvind, maar daar lê nog ‘n ver pad voor.” Ek hou op om te skryf. Drie volwassenes kyk na mekaar met trane in die oë.
Voordat ons die saal ingaan, onthou ek wat die skoolhoof, mnr Ricardo Erasmus net laasweek vir my gesê het: “Ons onthou. Ons sal altyd onthou. Maar ons moet ook aangaan.” Agter my het die nuwe kunswerk in die son geblink en ek het Camille se woorde in my gedagtes beaam… die genesing het begin.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button