NewsNews

Waterklep nou daagliks gemonitor

Waterklep nou daagliks gemonitor

Liezl Scheepers
Goeie nuus vir inwoners van Heilbron is dat ‘n klep op die pyplyn wat water na Kragbron deurlaat, nou as tussentydse maatreël daagliks gemonitor en verstel sal word soos nodig.
Die klep word deur Rand Water gestel om vier megaliter water per dag uit die stelsel na Kragbron deur te laat, maar nadat dele van Heilbron onlangs vir drie dae sonder water was, het dit tydens samesprekings tussen die Ngwathe Waterkrisiskomitee en amptenare van Rand Water, aan die lig gekom dat trillings in die pyplyn veroorsaak dat die klep soms vanself verder oopdraai. Gevolglik word meer water dan na Kragbron deurgelaat as waarop met Kragbron ooreengekom is. Dit verminder vloei na Heilbron.
Die Ngwathe Waterkrisis-komitee het verlede week ‘n opvolgvergadering met senior amptenare van Rand Water gehou om die samewerkingsooreenkoms wat die vorige week gesluit is, te versterk.

Terugvoer by die vergadering was dat die proses om ‘n nuwe vloeidrukpomp aan te koop, wat die probleem sal uitskakel, reeds aan die gang is, maar weens wetlike prosedures wat gevolg moet word kan dit etlike weke duur voordat die klep beskikbaar sal wees vir installasie.
Rand Water sal die komitee vroegtydig inlig wanneer die klep beskikbaar is sodat interim reëlings vir nood watervoorraad getref kan word vir die tyd wat dit sal neem om die installasie te doen en die pompe afgeskakel moet word.

“Rand Water het ook reeds ‘n span benoem om Heilbron behulpsaam te wees met ‘n ondersoek om meer noukeurig te probeer bepaal presies wat die groter Heilbron se waterbehoefte is,” sê Vryheidsfront Plus se rdl. Phillip van der Merwe, op wie se aandrang die waterkrisiskomitee saamgestel is. Rdl. Van der Merwe sê dit wil tans voorkom of die vraag na water gelyk mag wees aan, of selfs ietwat groter mag wees as die beskikbare aanbod, maar dié raming is nie betroubaar genoeg nie.
Heilbronners sal egter bly wees om te weet dat daar volgens die areabestuurder, mnr Frances Moeketsi, vanaf Maandag reeds minstens een toegewyde span in plek sal wees om waterlekkasies te takel. Toerusting om groter breuke te hanteeer sal volgens hom ook eersdaags beskikbaar wees. Raadslede wat in die komitee dien het die wending met entoesiasme verwelkom en die hoop uitgespreek dat die talle waterlekke, waarvan vele reeds lang baarde het, binnekort iets van die verlede sal wees.
Omdat die partye oor heelwat suiwer tegniese aspekte sal moet besin, het rdl. Van der Merwe voorgestel dat ‘n tegniese span, wat slegs uit amptenare sal bestaan, aangewys word om sulke aspekte te hanteer en daarna verslag te doen aan die groter komitee.

Hy voorsien dat die tegniese span en die groter komitee voortaan al om die ander week sal ontmoet totdat al die knelpunte aangespreek en opgelos is.‘n Aspek wat Heilbronners erg warm onder die kraag het, is die verskaffing van water aan Edenville, veral in tye wanneer Heilbron self bitter min beskikbaar het. Die kwessie is netelig omdat Edenville self amper geen water het nie, en Koppies ook nie werklik in staat is om huidiglik water aan Edenville te lewer nie. Koppies se suiweringswerke is tans in die proses van opgradering en fondse is reeds toegeken vir die bou van ‘n pyplyn vanaf Koppies na Edenville wat water sal kan voorsien wanneer die opgradering afgehandel en die pyplyn in plek is.

Die pyplyn-projek is egter tans nog in die beplanningsfase en sal waarskynlik eers teen 2021 operasioneel wees.
Die komitee het versoek dat Rand Water aandui of dit moontlik sal wees om Edenville tussentyds met tenkwaens vanaf een van sy reservoirs in Sasolburg te voorsien, en dat ‘n kosteberaming daarvoor voorgelê word, indien Rand Water kan help.

Related Articles

Back to top button