
Die ses verdagtes wat in Januarie vanjaar in hegtenis geneem is vir die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, sal vandag, Donderdag 6 Februarie, weer in die hof in Vredefort verskyn vir ‘n formele borgaansoek. Die ses, tussen die ouderdom van 26 en 34 jaar, is gearresteer nadat boere, lede van die Vredefort Koepel Gemeenskap Polisiëring Forum (GPF) en die polisie danksy skitterende samewerking, ‘n beplande plaasaanval op die Rademan-egpaar van die plaas Goedgedacht langs die S717 in die Koepel kon afweer. Dit nadat Vredefort Koepel GPF inligting gekry het van die moontlike aanval/roof op Pieter en Erna Rademan en ‘n verdagte rooi Polo en wit Toyota bakkie met Gauteng-registrasienommers toe opgemerk is. Die verdagte voertuie het by ’n padblokkade probeer omdraai en wegjaag, waarna die mans gearresteer en beslag op drie vuurwapens en die twee voertuie gelê is.


