Verskeie rolspelers het Maandag na ‘n hoë vlak besoek aan Parys se watersuiweringswerke deur die adjunkminister van menslike nedersetting, water en sanitasie, mnr. David Mahlobo, Sedibeng Water, verteenwoordigers van die kantoor van die Vrystaatse premier, en verteenwoordigers van die departement waterwese en sanitasie, saam met senior Ngwathe bestuur, op dringende maatreëls ooreengekom om die dorp se waterkrisis aan te spreek.
Onmiddellike maatreëls wat nou ingestel moet word by die watersuiweringswerke sluit in onder meer kalibrering by al die nodige punte binne die werke, opskerping van veiligheidsmaatreëls om vandalisme en diefstal te beperk vir meer effektiewe gebruik van toerusting, beter bestuur van die suiweringswerke, insluitend risiko evaluering, die skoonmaak van die inlaatkanale, vooraf suiwering (pre treatment plant) en verbetering van waterbestuur in die algemeen.
Die tegniese span sal met sy volgende vergadering sperdatums vir die implementering hiervan aan die adjunkminister se kantoor moet gee.

Die dorp se pakketaanleg wat vyf jaar gelede by die watersuiweringsaanleg geïnstalleer is en wat sedert Desember verlede jaar nie meer werk nie, het egter teen Maandag steeds gestaan. Die aanleg kon vroeër ‘n ekstra 10 megaliter water per dag vir die dorp suiwer, wat die waternood aansienlik verlig het by die bestaande 15 megaliter water per dag wat die ou aanleg se kapasiteitsvlak is.
Adjunkminister Mahlobo het geen doekies omgedraai met sy besoek Maandag toe hy gesê het dat die dorp se waterprobleme reeds by die watersuiweringswerke begin. Hy het verskeie tekortkominge en probleme uitgewys en sy kommer uitgespreek oor die bestuur en gebrekkige instandhouding van die suiweringswerke. Hy het diegene wat verantwoordelik is vir besluitneming gemaan om seker te maak die regte besluite word geneem en gesê dat hy graag wil sien dat die pakketaanleg binne die volgende twee weke weer operasioneel is.

Senior Ngwathe personeel wat saam met die adjunkminister van menslike nedersetting, water en sanitasie, mnr. David Mahlobo, Sedibeng Water, verteenwoordigers van die kantoor van die Vrystaatse premier, en verteenwoordigers van die departement waterwese en sanitasie, Maandag Parys se watersuiweringswerke besoek het. Links agter is die munisipale bestuurder, mnr. Bruce Kannemeyer, met die adjunkminister en Ngwathe burgemeester in die middel agter.
Die munisipaliteit se woordvoerder, mnr. Steve Naale, kon egter nie ‘n verbintenis gee vir wanneer die pakketaanleg weer operasioneel sal wees nie, behalwe om te sê dat daar vir nou volstaan word by middel Maart soos wat aanvanklik aangedui is vir voltooiing van die herstelwerk.
Geen inligting is gegee oor of en hoeveel geldelike hulp daar moontlik vir Ngwathe op die tafel is om sy enorme probleme met watervoorsiening die hoof te bied nie.





