Ouditinkomste in Ngwathe verbeter – dienslewering nie
Hoewel die oudituitkomste van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit (Parys, Vredefort, Heilbron, Koppies en Edenville) vir die 2018/2019-finansiële jaar van ‘n weerhouding na ‘n gekwalifiseerde mening verbeter het, is die bevindinge steeds kommerwekkend. Die munisipaliteit het gedurende die 2018/19-finansiële jaar ‘n netto verlies van meer as R200 miljoen getoon en sy laste het sy bates met …

Hoewel die oudituitkomste van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit (Parys, Vredefort, Heilbron, Koppies en Edenville) vir die 2018/2019-finansiële jaar van ‘n weerhouding na ‘n gekwalifiseerde mening verbeter het, is die bevindinge steeds kommerwekkend.
Die munisipaliteit het gedurende die 2018/19-finansiële jaar ‘n netto verlies van meer as R200 miljoen getoon en sy laste het sy bates met R1,28 miljard oorskry. Boonop neem dit die munisipaliteit gemiddeld 1 245 dae om sy skuld aan krediteure te vereffen. Wat nog meer betreurenswaardig is, is dat uitstaande skuld aan Eskom met sowat R128 miljoen verhoog het na R1,06 miljard. Skuld aan die departement van waterwese beloop sowat R108,5 miljoen. Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit oortree boonop Art. 41(1)(b) van die Munisipale Stelsels-wet van Suid-Afrika deurdat daar geen rekord van water- en elektrisiteitsverliese gehou word nie. Daar is dus geen manier waarop bereken kan word hoeveel water en elektrisiteit in dié munisipaliteit verlore gaan nie.
Rdl. Phillip van der Merwe, Vryheidsfront Plus raadslid vir Ngwathe, sê die party meen dat munisipaliteite tot op dorpsvlak moet verklein, ten einde te verseker dat dienste direk en meer effektief aan inwoners gelewer kan word. Dit sal voorkom dat belastingbetalersfondse wanaangewend word, sê hy





