NewsNews

Waterklep toe weer die sondebok

Waterklep toe weer die sondebok

Parys is nie die enigste Ngwathe dorp wat ‘n waterkrisis beleef nie. Heilbron het verlede week weer ernstige watertekorte beleef toe krane in sommige areas vir tot drie dae dolleeg was.
Dit was die soveelste keer in ‘n relatief kort tyd dat die water opgeraak het, en inwoners was met reg hewig ontsteld.
Die krisis het egter hierdie keer ‘n positiewe nadraai gehad. Dit nadat VF Plus rdl. Phillip van der Merwe van Heilbron, by die Ngwathe burgemeester, Joey Mochela, aangedring het dat sy ‘n krisiskomitee waarin al die Heilbron raadslede moes dien, moet saamstel om saam met amptenary en amptenare van Rand Water antwoorde en oplossings te soek.
‘n Krisisberaad is gevolglik verlede Vrydag in Heilbron gehou waar vasgestel is dat die klep wat water uit die hoofpyplyn na Heilbron, deurlaat na Kragbron weer die sondebok was.
Die klep word deur Rand Water gestel om vier megaliter water per dag uit die stelsel na Kragbron deur te laat, maar trillings op die pyplyn veroorsaak dat die klep vanself verder oopgaan en dan meer water deurlaat, wat minder water oorlaat wat Heilbron bereik.
Om die voortdurende probleem te oorkom het Rand Water onderneem om die klep met ‘n beter tipe vloeibeheerklep te vervang wat herhaling van die probleem sal voorkom.
Om dit te installeer sal minstens ses ure neem en daar sal vir daardie periode nie water gepomp kan word nie.
Die komitee het ooreengekom dat Rand Water sal voortgaan met die vervanging, maar dat vroegtydig aangedui moet word wanneer die werk gedoen sal word sodat inwoners voorsiening kan maak vir die gevolglike watertekorte.
‘n Opvolgvergadering sou vandeesweek gehou word om die datum van installasie te bepaal en inwoners sal vroegtydig daarvan in kennis gestel word.
Nog goeie nuus is dat Rand Water pas ‘n bystand-kragopwekker vir sy pompstasie bekom het. Dit nadat ‘n kragonderbreking in Sasolburg ook tot die onlangse krisis bygedra het.
Die opwekker is reeds geïnstalleer maar sekere elektoniese koppelings moes nog gedoen word met Gazette se ter perse gaan, waarna kragonderbrekings nie meer ‘n invloed sal hê op die pompstasie se vermoë om water te pomp nie.
Beter kommunikasie sal ook voortaan tussen die partye geskied sodat inwoners, waar moontlik, vroeër van moontlike tekorte in kennis gestel kan word.
“Heilbronners moet egter van hulle kant ook aanvaar en verstaan dat die dorp se aanvraag moontlik tans gelyk is aan, of selfs groter is as die beskikbare pompkapasiteit,” sê rdl. Van der Merwe.
Rand Water gaan verder behulpsaam wees om ‘n meer akkurate beraming van die dorp se waterbehoefte te maak sodat kort- en langtermynplanne om die beskikbaarheid van water te verseker, gemaak kan word.
Daar word reeds beplan vir ‘n nuwe pypleiding vir Kragbron wat na verwagting teen Junie 2021 voltooi sal wees. Daarna sal die volume water per dag beskikbaar vir Heilbron met 4 megaliter toeneem na 12 megaliter.
Tot dan sal Heilbronners egter beskikbare water oordeelkundig moet gebruik, veral omdat gebruik deurentyd weens ontwikkeling en ander redes verhoog.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button